Hashim Amla lyk so goed soos wat hy nog altyd voor die paaltjies gelyk het. Ja, hy het miskien nog net tellings van 13, 6 en 6 in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi aangeteken, maar ’n gróót telling is net om die draai.

Dít was die boodskap van Suid-Afrika se kolfafrigter, Dale Benkenstein, en die kaptein, Faf du Plessis, nadat Amla weer Maandag misluk het in die uitgereënde wedstryd teen die Wes-Indiese Eilande in Southampton.

“Toe hy hier aangekom het, het dit gelyk of sy spelpeil skitterend is (in die opwarmwedstryde) en in die nette lyk hy ook uitstekend,” sê Benkenstein.

Voor die toernooi het Amla twee weke saam met Benkenstein deurgebring om aan sy kolfwerk te slyp. Hy het daarna tellings van 65 en 51* in die opwarmwedstryde teen Sri Lanka en die Windies aangeteken.

“Hy is ’n speler van gehalte. Ek is heeltemal seker ’n groot telling is net om die draai vir hom,” sê Benkenstein.

“Hy kort net ’n lekker sonskyndag en ’n bietjie geluk ... Hy speel so goed soos wat hy nog altyd gespeel het. Hy tref die bal goed, hy beweeg goed. Ons moet net aanhou om in hom te glo.

“Hy is ’n baie ontspanne ou, maar hy het lopies nodig om selfvertroue te kry. Hy moet net tot by 60 kom en dan sal hy daarop voortbou.”

Benkenstein sê die hou wat Amla teen die kop gekry het in die eerste wedstryd teen Engeland, toe Jofra Archer hom teen die kopskerm raakgeboul het, het nie ’n blywende impak op hom gelaat nie. Nie fisiek of geestelik nie.

Amla het die tweede wedstryd teen Bangladesj weens daardie kopskoot misgeloop.

“Jofra het ons onverwags betrap met hoe skerp sy balle wip. Hy plant die bal nie noodwendig so kort nie, maar die bal klim steeds tot by die kopskerm. Dit was ’n geïsoleerde geval vir Hash.

“Hy is nie bang nie, hy vra dat ons kort balle vir hom in die nette gooi. Hy het die vinnigste boulers in die wêreld vir 15 jaar trotseer.

“Dit het hom glad nie beïnvloed nie.”

Ook Du Plessis is oor die Bebaarde Kryger gepols ná Maandag se wedstryd. Terwyl die kaptein die media in die onderdaknette by die Rose Bowl te woord gestaan het, het Amla in dieselfde vertrek “shuttles” gehardloop.

“Hy is daar agter, dalk moet ons hom roep,” het Du Plessis met ’n glimlag gesê toe die vrae oor Amla begin kom.

“Hash is ’n speler van gehalte,” het hy hom by Benkenstein aangesluit.

“Dit is moeilik om ’n aanvangskolwer op só ’n blad te wees. Jy het ’n tikkie geluk nodig. As hy deur die eerste 10, 15 beurte kan kom, sal die groot tellings volg.”

Amla het sy paaltjie Maandag weggegee toe hy na ’n wye aflewering van Sheldon Cottrell gehap en op glip uitgevang is.

“Jy kan jou paaltjie vroeg verloor op ’n blad soos vandag s’n. Hy sal teleurgesteld wees met hoe hy sy paaltjie verloor het, maar hy tref die bal baie goed in die nette en ons hoop ’n goeie telling is net om die draai vir hom.

“Hy het ’n baie goeie beurt in die opwarmwedstryd teen die Windies gespeel toe hulle vinnig geboul het.

“Soos die meeste van ons kolwers, gaan dit net daaroor dat hy homself moet inspeel en dan groot lopies moet aanteken.”

Dit lyk dus of die span met Amla gaan volhard vir die wedstryd teen Afganistan Saterdag in Cardiff. Die alternatiewe is immers yl gesaai.

Aiden Markram, wat ook goedkoop uitgehaal is deur die Windies, het reeds die sukkelende JP Duminy vervang vir Maandag se wedstryd. Die kolflys kan moontlik onveranderd gelaat word vir Saterdag se wedstryd.