“Is dit al so lank terug?” vra die Proteas se draaiboulafrigter Claude Henderson, met die Edgbaston-krieketveld in Birmingham reg agter hom.

Dit is inderdaad al so lank terug.

Maandag was dit presies 20 jaar gelede dat die Proteas op hartverskeurende wyse uit die Wêreldbeker (WB)-toernooi in Engeland geboender is.

Op 17 Junie 1999 is Allan Donald in die laaste boulbeurt van die halfeindstryd tussen Suid-Afrika en Australië, op die einste Edgbaston, uitgehardloop.

Die wedstryd het gelykop geëindig, maar die Aussies het tot die eindstryd deurgedring. En die toernooi gewen.

Verskeie ondersteuners en kenners meen daardie was die Proteas se beste kans om ’n WB-toernooi te wen. Sedertdien kon die Proteas in vier toernooie nog nie tot die eindstryd deurdring nie.

In vanjaar se toernooi is die span ook met die rug teen die muur. Hulle pak ’n sterk Kiwi-span Woensdag in Birmingham en sal hoop om die spook van 1999 met ’n sege te verjaag.

“Ons dink nie daaraan nie,” sê Henderson oor daardie halfeindstryd.

Hy sê wel ’n gewonde Suid-Afrikaanse span, is ’n gevaarlike een.

“Ons is baie desperaat om goed te vaar. Wanneer dié span platgeslaan word, hou ons daarvan om terug te veg,” sê Henderson.

“Nieu-Seeland is een van die beste spanne in wêreldkrieket. Hulle is veral goed in wêreldtoernooie, maar ek glo ons kan hulle klop as ons goeie krieket speel.”

As 1999 Suid-Afrika se beste kans was om tot die eindstryd deur te dring, is die WB-toernooi van 2015 beslis tweede op daardie lys. Toe is die Proteas in die doodsnikke van hul halfeindstryd teen Nieu-Seeland uitgeknikker.

Ook daaroor het die span nog nie veel gepraat voor hul herontmoeting met die Kiwi’s nie.

“Ons benader hierdie net soos enige ander wedstryd.”

Die ironie voor Woensdag se wedstryd, blyk geen einde te hê nie. Die laaste keer dat Suid-Afrika Nieu-Seeland in ’n WB-toernooi kon klop, was in 1999. In Birmingham. Sedertdien het die Swartpette die Proteas by die WB-toernooie van 2003, 2007, 2011 én 2015 getroef.

Lungi Ngidi, wat in 1999 slegs drie jaar oud was, sê ook die span was nie daarvan bewus dat hulle Maandag presies twee dekades later op dieselfde plek was waar ’n stukkie hartseer Suid-Afrikaanse krieketgeskiedenis gemaak is nie.

Dit het ook nie ’n invloed op hulle nie.

Daardie was ’n groot wedstryd vir die Proteas van 20 jaar terug, maar dit het geen impak op ons nie.
Lungi Ngidi

“Daardie was ’n groot wedstryd vir die Proteas van 20 jaar terug, maar dit het geen impak op ons nie,” sê die snelbouler Ngidi.

“Dit is ’n nuwe toernooi vir ons en dit gaan nie help as ons terugkyk op dinge wat gebeur het nie.

“Ons het nou weer ’n wedstryd op dié veld en ons moet fokus op die dinge wat ons moet doen om te wen.”

Die gebeure in die halfeindstryd van 1999 is nie die enigste spore van Donald wat by Edgbaston te bespeur is nie.

Hy het vir 13 jaar lank graafskapkrieket vir Warwickshire gespeel en daar is verskeie geraamde foto’s van dié voormalige Protea-snelbouler in die stadion se voorportaal.

Op een van dié foto’s vier hy in ’n Castle Lager-hemp fees saam met sy graafskapspan.

Die Proteas sal Woensdag hoop om dáárdie Allan Donald dit na te doen. Nie die een wat uitgestrek op die grond tussen ’n malende massa jubelende Aussies lê nie.