Sri Lanka het Vrydag vir die grootste opskudding tot dusver in vanjaar se Wêreldbeker-kriekettoernooi gesorg toe hy die groot gunsteling, Engeland, met 20 lopies op Headingley in Leeds geklop het.

Die 35-jarige snelbouler Lasith Malinga het die jare teruggedraai en die hart uit die gevreesde Engelse kolflys geruk. Engeland is die taak gestel om ’n beskeie teiken van 233 te jaag.

Die Sri Lankane het 232/9 in hul 50 boulbeurte aangeteken. Angelo Mathews was die beste kolwer met ’n onoorwonne 85 van 115 balle.

Jofra Archer (3/52) en Mark Wood (3/40) was die mees suksesvolle Engelse boulers.

Dit het gelyk of Engelse die teiken maklik sou bereik, maar Malinga het ander planne gehad.

Dié veteraan het op ’n stadige kolfblad vier van die eerste vyf Engelse paaltjies laat kantel. Op 144/5 en 170/6 kon die skaal na enige kant toe swaai, maar toe het die Sri Lankaanse boulers die uitklophou geplant.

Malinga het met ’n ontleding van 4/43 net die derde bouler geword om 50 of meer paaltjies in WB-toernooie in te oes.

Malinga het met ’n ontleding van 4/43 net die derde bouler geword om 50 of meer paaltjies in WB-toernooie in te oes.

Australië se Glenn McGrath (71), Muttiah Muralitharan (68) van Sri Lanka en Pakistan se Wasim Akram (55) het voorhom met 50 of meer gespog.

Die tuisspan se hoop was op sy lang kolflys gevestig om sy bas te red.

Nadat Joe Root vir 57 óók ’n slagoffer van Malinga geword het, het Ben Stokes wal gegooi.

Die Engelse middelordekolwer Ben Stokes het Vrydag puik vertoon teen Sri Lanka op Headingley, maar sy span het die onderspit gedelf.Foto: Getty Images

Hy het veral in die laaste beurt sy bes gedoen om die teiken te bereik, maar hy was eindelik die laaste man staande met ’n onoorwonne 82 van 89 balle (7x4, 4x6).

Die Engelse was in die 47ste beurt almal uit op 212.

Die nederlaag verhoog nou die druk op Engeland. Dit is sy tweede loesing en sy volgende drie wedstryde is teen Nieu-Seeland, Indië en Australië.

Die Engelse het ook met 14 lopies teen Pakistan verloor.

Sri Lanka se “tweede asem” in dié toernooi spel gevaar vir Suid-Afrika, teen wie hy Vrydag speel.

Die Sri Lanka is met ses punte in die vyfde plek op die punteleer met Australië eerste met tien.

Die Aussies se Mitchell Starc en Archer is met 15 paaltjies elk nou die voorste boulers in die toernooi. – Altus Momberg en Reuters