Die span van Pakistan, onder leiding van sy kaptein, Sarfaraz Ahmed, sal moet pa staan vir sy mislukkings nadat hy nie tot dusver aan die verwagtinge voldoen het by die Wêreldbeker-kriekettoernooi in Engeland en Wallis nie.

Die Pakistanse Krieketraad (PCB) is hoogs ontevrede met die land se aanslag op ’n tweede Wêreldbeker-titel en daar sal ook ’n “ernstige bespreking” plaasvind oor hul vertonings die afgelope drie jaar.

So het die PCB Woensdag gesê met Pakistan wat slegs ’n skraal kans het om nog die halfeindronde van die toernooi in Engeland te haal.

Pakistan lê tans in die negende plek op die puntelys, net agter Suid-Afrika, hoewel die Proteas al ’n wedstryd meer agter die rug het.

Hy kon nog net een van sy vyf wedstryde wen en is Sondag ’n groot drag slae deur sy aartsvyand, Indië, gegee.

Die PCB hoop die span sal sy veldtog op ’n hoë noot afsluit, maar gee toe dat ’n plek in die halfeindronde onwaarskynlik is.

Die PCB sê hy sal ná die toernooi die span se onlangse rekord hersien en ontleed, met die afrigters en personeel wat sal moet antwoorde gee oor waarom die land die afgelope drie jaar nie kon beïndruk nie.

Pakistan het in 2019 sy toetsreeks teen Suid-Afrika met 0-2 verloor en kon in 2018 net vier uit sy nege toetswedstryde wen, terwyl die span in 2017 ook net twee keer in ses wedstryde kon koning kraai.

Sy onlangse rekord in eendagwedstryde is ook power.

Hy het vroeër vanjaar teen die Proteas met 2-3 vasgeval, voordat Australië hom met 5-0 slae gegee het en Engeland ook met 4-0 baas was.

In 2018 kon Pakistan net agt oorwinnings in 17 wedstryde behaal.

Pakistan kom Sondag teen Suid-Afrika op Lord’s in Londen te staan. – Reuters, Sportredaksie