Die Wêreldbeker (WB)-kriekettoernooi is ná die eerste halfeindstryd op sy kop gekeer.

Nieu-Seeland het Woensdag ’n opskudding veroorsaak deur Indië, wat nog net teen Engeland verloor het, met ’n opspraakwekkende sege met 18 lopies uit die toernooi te boender.

Die kragmeting is Woensdag hervat nadat reën sake beduiwel het. Indië is die taak gestel om 240 vir ’n oorwinning aan te teken, maar is uiteindelik in die laaste boulbeurt vir 221 uitgehaal.

Virat Kohli, Indiese kaptein, het agterna gesê 45 minute van swak krieket het sy span se ondergang beteken.

“Dit is moeilik om die situasie te verwerk, maar MS (Dhoni) wat uitgehardloop is, was ’n groot slag, asook daardie paaltjies wat ons vroeg verloor het. Die Nieu-Seelandse boulers het hulp van die blad en swaai gekry en verdien die krediet,” sê hy.

Dit is die tweede agtereenvolgende WB-toernooi waarin Nieu-Seeland die eindstryd haal. In 2015 was Suid-Afrika aan die ontvangkant van ’n doodskoot in die uitklopfase.

Die ou gesegde dat ’n kolfblad eers beoordeel kan word wanneer albei spanne gekolf het, was weer baie waar in vanjaar se kragmeting.

Indias captain Virat Kohli reacts after their loss
Virat Kohli. Foto: AP

Nadat die Kiwi-kolwers Dinsdag gespartel het om in 46.1 boulbeurte by 211/5 uit te kom voordat die reën kom red het, is sake Woensdag in perspektief gestel in die Indiese soektog na die teiken.

Nieu-Seeland het sy beurt Woensdag voortgesit en in die oorblywende paar beurte 28 lopies by sy telling gevoeg.

Ross Taylor is uiteindelik vir 78 lopies (90 balle, 3x4, 1x6) uitgehardloop.

Die teiken van 240 het nie juis gelyk asof dit Indië te veel probleme sou besorg nie. Maar dié prentjie het sommer binne ’n japtrap drasties verander.

Indië het gesteier op 5/3 en met Kohli (1) as een van die slagoffers, was die kastaiings in die vuur.

Matt Henry (3/37), die Speler van die Wedstryd, het die Indiese toporde vroeg geruk deur van die aanvangskolwers, KL Rahul (1) en Rohit Sharma (1), ontslae te raak, terwyl Trent Boult (2/42) daarna die groot vis been voor paaltjie betrap het.

Op 96/6 was dit skynbaar nag vir die oorweldigende gunsteling in blou, maar MS Dhoni (50, 72 b, 1x4, 1x6) en Ravindra Jadeja (77, 59 b, 4x4, 4x6) het met hul vennootskap van 116 om die sewende paaltjie hoop gebring. Toe Jadeja egter uitgevang is en Dhoni met ’n direkte trefhou uitgehardloop is, het die gordyn vir Indië gesak.

Die blad was nie juis gunstig vir houespel nie en telkens het die kolwers hul houe te vroeg uitgevoer. Die draaier Mitchell Santner het in sy eerste ses boulbeurte net sewe lopies afgestaan en twee paaltjies geneem.

Kane Williamson, die Kiwi-kaptein, sê die plan om toe te sien dat vroeë paaltjies val, het perfek gewerk en Indië was uit die staanspoor onder geweldige druk.

Telkaart