Eers het die reën in Cardiff geval. Toe die paaltjies.

Die Proteas het Saterdag by Sophia Gardens tydens Afganistan se kolfbeurt oplaas ’n kliniese, oorheersende vertoning by vanjaar se Wêreldbeker-toernooi gelewer.

Danksy ’n skitterende boulvertoning ná die tweede onderbreking weens reën, moet die Proteas (volgens Duckworth/Lewis) slegs 127 aanteken om hul eerste oorwinning by die toernooi in Engeland en Wallis te behaal.

Afganistan is ná 34.1 boulbeurte vir 125 uitgeboul in die wedstryd wat tot 48 boulbeurte per span verkort is. Die veteraandraaier Imran Tahir (4/29 in sewe boulbeurte) was Suid-Afrika se groot ster met die bal.

Ná ’n week van swaar reën in Brittanje, het die ondersteuners opgewonde na ’n sonnige Sophia Gardens net buite die prentjiemooi Bute-park opgeruk.

Die Proteas het die loot gewen en besluit om eerste te boul. Die son het bly skyn, maar ná 5.5 boulbeurte het die Britse weergode hul kenmerkende temperamentele sy gewys en ’n ligte reënbui het oor die stadion uitgesak.

In dié stadium het Afganistan 33/0 op die telbord gehad en die Protea-ondersteuners by die stadion sou so ietwat senuweeagtig wees. Kagiso Rabada (1/36 in agt bbe.) en Beuran Hendricks (0/25 in vyf bbe.) het egter goed geboul in hul eerste boulskofte en die Afgaanse aanvangskolwer, Hazratullah Zaizai (22), is ’n lewe gegun toe Chris Morris ’n bitter moeilike vangkans van Rabada se boulwerk verbrou het.

Die reënbui was gou verby. So ook die Afgaanse aanvangsvennootskap.

Rabada het vir Zaizai uitgekry en kort daarna het Chris Morris (3/13 in 6.1 bbe.) toegeslaan om van die nr. 3-kolwer, Rahmat Shah (6), ontslae te raak. Morris was ook weer skitterend met die bal.

Noor Ali Zadran (32) het vasgeskop en toe die reën ná 20 beurte terugkeer, het die Afgane op 69/2 gestaan.

Dié onderbreking was ’n bietjie langer. Maar die Afgaanse weerstand ná die hervatting was kort.

Andile Phehlukwayo (2/18 in 8 bbe.), wat Suid-Afrika se beste naatbouler tot dusver by die toernooi was, het met die vierde bal van die 21ste boulbeurt toegeslaan.

Imran Tahir het in die volgende boulbeurt, sy eerste van die wedstryd, twee keer toegeslaan en die Afgane se hart uitgeruk.

Nog ’n paaltjie elk vir eers Phehlukwayo en toe Tahir, het ’n tydperk afgerond waarin daar vyf paaltjies vir agt lopies in 29 balle geval het.

Afganistan se ster, Rashid Khan (35, 25 balle; 6x4), het daarna aansien probeer verleen aan sy span se telling. Hy het Rabada selfs vir ’n sierlike reguit-vier gedryf en Tahir minagtend vir vier geveeg.

Die weerstand was egter, nes die reën, vlietend.