Imran Tahir het na Kagiso Rabada gestap en hom om verskoning gevra toe dié twee boulers mekaar onlangs ná die Indiese Premierliga (IPL) weer in die Protea-kamp gesien het.

Kagiso Rabada duik om ’n bal te vang by ’n Protea-oefening voor hul vertrek na Engeland. Foto: Gallo Images

Die lang snelbouler was egter nie kwaad vir Tahir omdat dié bybreekbouler die IPL se pers keps vir die bouler met die meeste paaltjies, voor sy neus weggeraap het nie.

“Ek het na hom toe gestap en jammer gesê. Toe glimlag hy en gee vir my ’n drukkie,” vertel Tahir, wat met 26 paaltjies in 17 wedstryde eerste op die paaltjielys geëindig het.

Rabada het ’n allemintige 25 slagoffers in slegs 12 wedstryde geëis voordat hy met ’n ligte rugbesering na Suid-Afrika moes terugkeer.

“As Kagiso in al die wedstryde gespeel het, sou hy almal ver geklop het,” erken Tahir.

Die voorste twee paaltjievrate was dus Suid-Afrikaners. Dis ook twee Proteas wat ’n enorme rol by die Wêreldbeker-toernooi sal moet speel wanneer dié skouspel op 30 Mei met ’n stryd teen Engeland op die Oval in Londen begin.

“Of dit nou ek of hy was, dit is ’n groot prestasie vir ’n Suid-Afrikaner om in een van die grootste reekse ter wêreld te speel en so uit te troon,” sê Tahir.

“Ek sou vir hom net so bly soos vir myself gewees het.”

Imran Tahir het die Indiese Premierliga met die meeste paaltjies afgesluit nadat hy 26 slagoffers in 17 wedstryde vir Chennai Super Kings geëis het. Foto: Getty Images

Die 40-jarige gebore Pakistani sê hy is tevrede met sy spelpeil in die IPL. Hy glo dit sal hom met baie selfvertroue in Engeland toerus.

“Jy kry baie selfvertroue ná so ’n vertoning, want jy speel teen van die beste spelers ter wêreld.”

Dit was ook nie net Tahir en Rabada wat goed gevaar het in dié spogtoernooi nie.

Quinton de Kock het die toernooi as die derde voorste lopievraat afgesluit, met ’n oes van 529 lopies in 16 wedstryde (teen ’n gemiddeld van 35.26 en ’n treftempo van 132.91). Hy het vier vyftigtalle gemoker.

Die Protea-kaptein, Faf du Plessis, het veral later in die toernooi ’n groot rol as aanvangskolwer vir die Chennai Super Kings gespeel. Hy het 396 lopies in 12 wedstryde aangeteken. Dit sluit drie vyftigtalle in.

“Ek was baie bly om te sien die Suid-Afrikaanse ouens het goed vertoon by die IPL. Die toestande is anders as in Engeland, maar dit het bygedra tot goeie spelpeil vir spelers,” sê Du Plessis.

Hy het ook die versekering gegee dat al die IPL-spelers uitgerus, fiks en honger vir die WB-toernooi is.

“Dit was goed dat ’n ou soos Kagiso twee weke vroeër kon terugkom en uitrus,” sê hy.

“Ek het my eie werkslading bestuur, want ek weet ek het nie veel meer krieket nodig om gereed te wees nie.

“Quinny het twee dae by die huis deurgebring en Imran het ook gerus, al is dit bykans onmoontlik om ’n bal uit sy hand te kry.”