Die Proteas se Wêreldbeker-veldtog het lankal gesneuwel, maar ’n unieke mylpaal wat wink, kan Saterdag vir hulle as geelwortel dien in hul laaste wedstryd teen Australië.

Wen Suid-Afrika op Old Trafford in Manchester, word hy die eerste span wat die Aussies net soveel kere in eendagkrieket kon klop as wat hy teen hulle verloor het.

Tans spog Australië met 48 oorwinnings teen die Proteas se 47.

Die onlangse geskiedenis is Suid-Afrika boonop uiters goedgesind.

Sedert die vorige WB-toernooi, in 2015, het die spanne mekaar 11 keer gepak. Die Proteas het agt van die wedstryde gewen, die Aussies twee en een wedstryd het uitgereën.

Dit is ook nie ’n geval dat spelers wat nié meer vir Suid-Afrika speel, die meeste skade teen die Aussies aangerig het in die laaste vier jaar nie.

Faf du Plessis, die Proteas se kaptein.

Die voorste drie Protea-kolwers teen die Aussies in dié tyd is almal in die huidige WB-groep.

Faf du Plessis het in dié tydperk 459 lopies in nege wedstryde teen ’n gemiddeld van 61.84 aangeteken en Quinton de Kock 402 lopies in 11 beurte teen 40.20.

David Miller het in 2016 in Durban en verlede jaar in Hobart deurslaggewende honderdtalle teen die Aussies geslaan en spog met ’n ongelooflike gemiddeld van 96.25 in sewe beurte teen die Aussies sedert 2015.

Met 385 lopies in dié tydperk, bevind hy hom derde op die lys van die Proteas se voorste lopiemakers teen Australië die laaste vier jaar.

Daar is wel nog onduidelikheid oor sy beskikbaarheid vir Saterdag se wedstryd, nadat hy die kragmeting met Sri Lanka weens ’n liesbesering misgeloop het. Hy sal Vrydag ’n finale fiksheidstoets ondergaan.

Daar is wel nog onduidelikheid oor sy beskikbaarheid vir Saterdag se wedstryd, nadat hy die kragmeting met Sri Lanka weens ’n liesbesering misgeloop het.

Die uitgetrede AB de Villiers het slegs in drie van die laaste 11 wedstryde teen die Aussies gespeel. Rilee Rossouw, deesdae ’n Kolpak-speler in Engeland, is wel in 2016 as die Speler van die Reeks teen die Aussies in Suid-Afrika aangewys.

Hy bevind hom vierde op die bogenoemde lys met 318 lopies in ses beurte teen 63.60.

Net onder Rossouw is JP Duminy (263 in sewe beurte teen 37.57), wat sy laaste wedstryd vir die Proteas sal speel as hy wel gekies word.

In die laaste 11 wedstryde wat Aaron Finch (Australië se eendag-kaptein) teen Suid-Afrika gespeel het, was hy agt keer aan die verloorkant. Foto: Getty Images

Imran Tahir, wat ook in sy laaste eendagwedstryd vir die Proteas sal speel, het die laaste vier jaar 12 paaltjies in nege kragmetings met die Aussies platgetrek teen 32.66 lopies per paaltjie.

Hy is tweede op die lys van die voorste Protea-paaltjievrate teen die Aussies sedert 2015. Bo-aan dié lys is Kagiso Rabada met 16 slagoffers teen 29.18.

Dale Steyn, wat beseer is, is derde met 12 paaltjies in sewe wedstryde teen 29.00.

Dié lot Proteas weet dus hoe om die Aussies te klop. Hulle het dit boonop gereeld teen sterk Aussie-spanne gedoen, met die kolfsterre Aaron Finch (al 11 wedstryde), Steve Smith (agt wedstryde) en David Warner (sewe wedstryde), wat in die meerderheid van daardie wedstryde gespeel het.

Australië is wel ’n briljante WB-span en Suid-Afrika kon hom nog net in 1992 in dié toernooi verslaan. Sedertdien het die Aussies hulle drie keer geklop, waarvan die laaste in 2007.

Dan was daar natuurlik ook dáái gelykopuitslag, 20 jaar gelede in dieselfde land as waar die spanne nou kragte meet ... Om dít te wreek, moet reeds meer as genoeg motivering vir die Proteas wees.