Die reën wat Donderdag so ongewens in Nottingham geval het, het die wêreld waarskynlik van die kans ontneem om te sien presies hoe goed die krieketspan is wat Nieu-Seeland na vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Engeland gestuur het.

Die Kiwi’s se wedstryd teen die ewe indrukwekkende Indië het uitgereën en Nieu-Seeland sal dus aanhou om so ietwat onder die radar te vlieg. Dít is presies hoe dié dodelike Nieu-Seelanders dit verkies.

AUCKLAND, NEW ZEALAND - MARCH 24: Grant Elliott o
Die Kiwi's het Suid-Afrikaanse harte by al vier die laaste WB-toernooie gebreek. Hier help Grant Elliott 'n gebroke Dale Steyn op na hul halfeindstryd in 2015. Foto: Getty Images

Terwyl die kollig op Virat Kohli se Indië en Eoin Morgan se Engeland skyn, kan Kane Williamson en sy Swartpette voortgaan om soos laksmanne in die donker van slagoffer na slagoffer te sluip.

Woensdag is hul visier op die mank Proteas ingestel.

Terwyl dit verstommend is dat Nieu-Seeland nie meer deel is van die gunstelinge-gesprek nie, sal Suid-Afrika goed weet hoe gevaarlik die Kiwi’s is wanneer die spanne mekaar op Edgbaston in Birmingham pak.

Nieu-Seeland is die Proteas se grootste Wêreldbeker (WB)-vyand. Suid-Afrika het die Kiwi’s in al sewe die vorige WB-toernooie gepak en net twee van dié kragmetings gewen.

Die Nieu-Seelanders het Suid-Afrika in die vorige vier WB-toernooie, in 2015, 2011, 2007 en 2003, geklop. Die Proteas kon die Kiwi’s dus nog nie in die 21ste eeu op die grootste verhoog klop nie.

Die vorige keer wat Suid-Afrika die Swartpette in ’n WB-toernooi gewen het, was – ironies genoeg – 20 jaar gelede in Birmingham in die 1999-toernooi in Engeland.

In baie van die vorige WB-wedstryde tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland, was die Proteas die gunsteling. Vanjaar is dít glad nie die geval nie.

Die Nieu-Seelandse kaptein, Kane Williamson, en sy
Die Nieu-Seelandse kaptein, Kane Williamson, en sy span is uitstekend op dreef by die WB-toernooi. Foto: Getty Images

Nieu-Seeland het ’n skitterende span, wat met onderskeiding deur Williamson aangevoer word.

Die aanvangskolwers Martin Guptill en Colin Munro kan enige teenstander van die begin af onder druk plaas, waarna die span se beste kolwers – Williamson en Ross Taylor – instap. Menere Williamson en Taylor kan enige soort krieket speel.

Hulle kan grenshoue jag, enkellopies versamel, of laer trek sonder om té veel aan hul speelstyl te verander. Hulle is die hart en brein van die indrukwekkende Kiwi-masjien.

Daarna kan die veelsydige spelers Colin de Grandhomme en Jimmy Neesham, albei mokermanne, boulers seermaak.

Die snelboulers Lockie Ferguson (met 8 paaltjies) en Matt Henry (7) is aan die brand tot dusver in die toernooi.

Trent Boult is nog nie uit derde rat nie.

Toegegee, Nieu-Seeland het nog net teen die “swakker” spanne – Sri Lanka, Afganistan en Bangladesj – gespeel.

Maar die Swartpette loop oor van die gehalte. Hulle kon dalk net vir Indië goed skrikgemaak het as daardie wedstryd nie uitgereën het nie. Dan sou mense skielik meer oor die Kiwi’s begin praat het.

Die letsels van die halfeindstryd in 2015 is waarskynlik nog daar vir die Proteas, maar hulle sal eenvoudig ’n manier moet vind om hul Wêreldbeker-aartsvyand te bowe te kom.

Hul Wêreldbeker-hoop hang daarvan af.