Die jaar is 2008. Die stad is Kuala Lumpur, Maleisië.

Dit is die halfeindstryd van die Wêreldbeker-kriekettoernooi vir o.19-spanne tussen Nieu-Seeland en Indië.

Die Kiwi’s word deur ’n jong aanvangskolwer genaamd Kane Williamson aangevoer. Indië se kaptein kolf op nr. 4 en boul selfs ’n paar naatballe. Sy naam is Virat Kohli.

Dinsdag, 11 jaar later, voer dieselfde twee spelers – nou twee van die beste kolwers in die wêreld – hulle spanne weer in ’n WB-halfeind aan.

Dié keer is die verhoog soveel groter, die kollig soveel feller.

Virat Kohli was Indië se kaptein by die Wêreldbeker-toernooi vir o.19-spanne in 2008. Foto: Getty Images

“Ek sal Kane môre daaraan herinner,” het Kohli Maandag in Manchester gesê, waar die eerste halfeindstryd van vanjaar se WB-toernooi Dinsdag plaasvind.

“Dit is nogal lekker om te besef 11 jaar gelede het ons ons onderskeie spanne by die o.19-toernooi aangevoer en nou doen ons dit by die senior WB,” sê Kohli.

“Dit is ’n baie lekker herinnering en nie ek of hy sou kon voorspel dit gaan gebeur nie.”

Kohli, wat nou nie meer boul nie, het Williamson selfs in daardie halfeindstryd in Kuala Lumpur uitgekry.

“Ek dink egter nie dit gaan weer gebeur nie,” sê die Indiese kaptein.

Indië het daardie wedstryd gewen en voortgegaan om Suid-Afrika, met spelers soos Rilee Rossouw, Wayne Parnell en Reeza Hendricks in sy geledere, in die eindstryd te verslaan.

Kohli het Maandag gesê Williamson is die belangrikste Nieu-Seelandse kolwer – die een Kiwi wat sy span Dinsdag kan seermaak. Hy het langer as 11 jaar gelede reeds besef Williamson gaan ’n superster word.

“Ons het in 2007 in ’n o.19-toets in Nieu-Seeland gespeel en hy het ’n hou van die agtervoet af gespeel teen een van ons snelboulers.

Kane Williamson het die Kiwi’s in 2008 by die o.19-WB-toernooi aangevoer. Foto: Getty Images

“Ek onthou ek het in die glippe gestaan en gesê: ‘Ek het nog nooit iemand ’n hou soos dit sien speel nie.’

“Hy was spesiaal. Hy was altyd die Nieu-Seelandse speler wat uitgestaan het. Hy beheer altyd die tempo van ’n wedstryd.

In ’n nuuskonferensie wat uit sy nate gebars het met al die verslaggewers en televisiekameras, het Williamson gesê hy het nog nie aan die o.19-halfeindstryd van 2008 gedink nie.

“Maar dit is nogal lekker, is dit nie? ’n Paar jaar later is ons weer hier. Die verhoog is dalk anders, maar dit is baie spesiaal,” sê Williamson.

Die Kiwi het nes Kohli sy agting vir sy eweknie uitgespreek.

“Hy was ’n formidabele speler toe ons grootgeword het. Ons is dieselfde ouderdom en het op verskillende tye internasionale krieket teen mekaar gespeel en ook in die Indiese Premierliga. Dit is uiteraard ’n plesier om Virat te sien kolf en te sien ontwikkel in die superster wat hy is.”

Kohli sê sy span wil Dinsdag “dapper en berekende” krieket speel. Besluitneming gaan die deurslag gee.

Indië is beslis die gunsteling.

Die getal lopies wat Rohit Sharma en Kohli aanteken, sal deurslaggewend tot hul sukses wees. Maar as Nieu-Seeland vroeë deurbrake kan bewerkstellig met hul giftige snellers, soos Lockie Ferguson en Trent Boult, kan hulle die bordjies van 11 jaar gelede verhang.