Die span wat vanjaar se Wêreldbeker-kriekettoernooi in Engeland wen, sal ’n stewige R57 miljoen ryker wees.

Die span wat die Wêreldbeker-trofee omhoog gaan hou, sal ’n stewige R57 miljoen ryker wees. Foto: Getty Images

Die Internasionale Krieketraad (IKR) het Vrydag in ’n verklaring gesê ’n boerpot van $10 miljoen (R143,5 miljoen) is vanjaar op die spel in die toernooi wat op 30 Mei met ’n kragmeting tussen Suid-Afrika en Engeland op die Oval in Londen begin.

Die wenner sal $4 miljoen (sowat R57 miljoen) ontvang, met die naaswenner wat ’n stewige $2 miljoen (bykans R29 miljoen) sal wen.

Die twee spanne wat in die halfeindronde uitval, sal elk steeds $800 000 (R11,5 miljoen) ryker wees.

Vir elke sege in die groepfase sal ’n span $40 000 (R574 680) ontvang. Elke span speel nege groepwedstryde.

Die ses spanne wat nie tot die halfeindronde deurdring nie, sal elk ’n troosprys van $100 000 (R1,4 miljoen) ontvang.

As die Proteas dus al hul groepwedstryde én die toernooi wen, sal hulle R62 miljoen ryker wees.

Die Suid-Afrikaanse krieketspeler Lungi Ngidi het juis Donderdag in Pretoria gesê die prysgeld kan as bykomende motivering dien.

“In sulke groot toernooie is daar altyd baie geld op die spel. Dink net hoe goed sulke geld vir ontwikkeling aangewend kan word,” het die snelbouler gesê.