Hallo, ons is ook hier, ons speel ook in die eindstryd!

Kane Williamson, Nieu-Seeland se kaptein, moes gister op sy nuuskonferensie by Lord’s homself seker inhou om nie dié woorde te skreeu nie. Die Britse media benader vandag se Wêreldbeker (WB)-eindstryd tussen die Kiwi’s en die Engelse bykans as ’n formaliteit. So asof Engeland se herrysing uit die as van eendagkrieket oor die laaste vier jaar vir hulle die reg gee om die trofee vandag omhoog te hou.

Die koel en kalm Williamson het wel só geantwoord nadat hy die soveelste keer gevra is oor hul status as buiteperd: “Ons wil ook nogal graag wen.”

Hy weet Engeland is die oorheersende gunsteling.

“Hulle verdien al die goeie goed wat met hulle gebeur, want hulle het baie goeie krieket gespeel oor die laaste vier jaar.”

Maar vir Nieu-Seeland, wat in 2015 ook in die eindstryd gespeel het, beteken dit net so baie om in die eindstryd te speel.

“Ons kry baie ondersteuning, wat ongelooflik is,” sê hy.

Nie Engeland of Nieu-Seeland kon al ooit die WB wen nie. Daar word baie gepraat oor wat dit vir die spel in Engeland sal doen as Eoin Morgan se span die beker verower, maar Williamson sê krieket in Nieu-Seeland sal net soveel baat daarby vind as hy die trofee kan lig.

Maar vra jy die Engelse media en publiek, gaan dít ongelukkig nie vir Williamson gebeur nie.

Morgan is gister selfs gevra of hy homself al verbeel het hoe hy die trofee omhoog hou.

“Ek het myself nog nie toegelaat om daaraan te dink nie, nee,” het hy nederig gesê.

“Krieket is wispelturig en hy kan jou in die agterstewe byt as jy te ver vooruit dink.”

Engeland oorheers met reg die gesprek. Hy is ’n skitterende, gebalanseerde span propvol wedstrydwenners.

Hul aanvangskolwers, Jason Roy en Jonny Bairstow, is twee van dié wedstrydwenners wat die Kiwi’s bitter vinnig kan bêre.

Dié duo se gemiddelde vennootskap tot dusver in die toernooi is ’n verstommende 91.33 in ses beurte.

WB-eindstryd.
WB-eindstryd.

“Hulle twee was skitterend deur die hele toernooi en voor dit ook,” sê Williamson oor Engeland se aanvangskolwers.

“Ons het baie agting vir hul wedstrydwenners. Dit begin by hul toporde.”

Die eerste tien beurte in albei spanne se kolfbeurt gaan kritiek belangrik wees. Nieu-Seeland het puik nuwebal-boulers in Trent Boult en Matt Henry. Ditto Engeland met Chris Woakes en Jofra Archer.

Roy en Bairstow voer egter die botoon teenoor Nieu-Seeland se aanvangskolwers, Martin Guptill en Henry Nicholls.

Op die veld, en wat die fisieke spel betref, kan die verskil moontlik daar lê.

Maar aan die sielkundige front – daar waar sulke groot sportgeleenthede gewoonlik gewen of verloor word – gaan dit deurslaggewend wees hoe Engeland die verwurgende druk van die gunsteling-etiket hanteer. Anders kan die buiteperd heel moontlik eerste oor die wenstreep galop.