Die Springbokke Cheslin Kolbe en Kwagga Smith tel onder 18 rugbyspelers wat hul onderskeie lande in 2016 by die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro verteenwoordig het, wat nou ook in Japan vir die Wêreldbeker (WB)-rugbytoernooi aantree.

Fidji se sewesspan het goud op die Spele in Rio verower, terwyl Suid-Afrika daardie jaar die bronsmedalje opgeraap het.

Dié 18 spelers van nege lande het suksesvol die oorgang van sewes- na 15-man-rugby gemaak vir die skouspel, wat Vrydag in Tokio begin.

Die fiksheid en krag wat jy kry danksy sewes, help jou regtig.
Leone Nakarawa

Vier spelers wat deel van die seëvierende Fidjiaanse span in Rio was, Leone Nakarawa, Viliame Mata, Josua Tuisova en Semi Kunatani, gaan ook in Japan hul talente ten toon stel.

Sonny Bill Williams (senter) en Rieko Ioane (vleuel) het Nieu-Seeland in 2016 in sewes verteenwoordig en tree ook in Japan aan.

Nakarawa, Fidji se kaptein wat by sy derde WB-toernooi in aksie sal wees, is vol lof vir die rol wat sewes in die ontwikkeling van spelers speel.

“Vyftienmanrugby gaan meer oor krag en uithouvermoë, om aanhoudend geduik te word en weer op te staan. Maar die fiksheid en krag wat jy kry danksy sewes, help jou regtig. As gevolg daarvan, voel jy nooit moeg (tydens 15’s) nie,” sê Nakarawa in ’n verklaring van Wêreldrugby.

Daar is heelparty spelers, soos die Amerikaners Ben Pinkelman en Martin Iosefo, wat albei kodes suksesvol beoefen. Dié twee was in Junie nog deel van die Amerikaanse span, wat tweede in Wêreldrugby se sewesreeks geëindig het.

Martin Iosefo in aksie vir Amerika se sewesrugbyspan in April in Hongkong. Foto: Getty Images
Cheslin Kolbe sit af op ’n lopie by die Olimpiese Spele in 2016. Foto: Gallo Images

Met die volgende Spele wat in 2020 ook in Japan beslis word, kan spelers soos Kolbe en Smith straks weer in die wedloop wees om die Blitsbokke daar te verteenwoordig.

Kolbe sê dit was ’n spesiale geleentheid om sy land in 2016 op dié verhoog te verteenwoordig.

“Die Olimpiese Spele is een van die grootste byeenkomste waar ’n atleet in aksie kan wees.” – Sportredaksie

Die 18 spelers is: Cheslin Kolbe en Kwagga Smith (Suid-Afrika), Leone Nakarawa, Viliame Mata, Josua Tuisova en Semi Kunatani (Fidji), Ruaridh McConnochie (Engeland), James Davies (Wallis), Lomano Lemeki, Kenki Fukuoka en Yoshitaka Tokunaga (Japan), Sonny Bill Williams en Rieko Ioane (Nieu-Seeland), Matías Moroni (Argentinië), Sofiane Guitoune en Virimi Vakatawa (Frankryk), Ben Pinkelman en Martin Iosefo (Amerika).