Die goue vloeistof wat die Bokke uit die Webb Ellis-beker gedrink het, sou gewis voortreflik smaak, maar hulle moet versigtig wees . . . Wêreldbeker-vonkelwyn het al gewys dit kan ’n lelike babelaas tot gevolg hê.

Terwyl Rassie Erasmus en sy seëvierende Springbok-span hul skitterende sege oor Engeland in Saterdag se eindstryd vier, het die breier reeds gesê dit is belangrik dat die span voortaan bestendig goeie spel handhaaf.

Natuurlik moet die Bokke nou eers hul oorwinning geniet en herstel van die uitmergelende WB-toernooi in Japan. Maar Erasmus, wat voortaan uitsluitlik op sy pos as direkteur van rugby gaan fokus, sal gou begin planne beraam om te verseker hierdie span trap nie in dieselfde slaggate as die vorige kampioenspanne nie.

Nadat die Bokke die WB in 1995 gewen het, het hulle die 1996-seisoen vrotsig begin en slegs twee van hul eerste sewe toetse gewen.

Daarna het hulle ’n bietjie vaart gekry, voordat hulle 1997 ook swak begin het met ’n reeksnederlaag teen die Britse en Ierse Leeus en drie agtereenvolgende nederlae in die Drienasiesreeks. Daarna, aan die einde van 1997, het die Bokke eers hul roes begin afskud.

Dit was tóé dat hul beroemde segetog van 17 agtereenvolgende oorwinnings onder Carel du Plessis (slegs die eerste toets) en Nick Mallett begin het.

Nieu-Seeland vier fees tydens ’n wentoets teen die Bokke op Loftus Versfeld in 1996. Dit was die All Blacks se eerste reekssege in Suid-Afrika. Foto: Getty Images

Soortgelyk hieraan, was die jaar ná die vorige WB-oorwinning in 2007, niks om oor opgewonde te raak nie.

In 2008 het die Bokke laaste geëindig in die Drienasiesreeks, met slegs twee oorwinnings in ses toetse. Daar was wel die euforie van ’n eerste sege in tien jaar oor die All Blacks in Nieu-Seeland en ’n wegholoorwinning van 53-8 oor die Wallabies in Johannesburg. Maar dit was ook eers die volgende jaar, 2009, wat die span sy WB-babelaas kon afskud.

In 2009 het die Bokke die Britse en Ierse Leeus geklop, die All Blacks drie uit drie keer getroef én die Drienasies-reeks gewen.

’n Faktor wat ook in berekening gehou moet word, is dat die span ná 1995 én 2007 nuwe afrigters gekry het.

Ná 1995 het André Markgraaff by Kitch Christie oorgeneem. Jake White se kontrak is nie hernieu nie, al het hy die WB vir die Bokke in 2007 gewen en Peter de Villiers is in sy plek aangestel.

Die All Black-vleuel Richard Kahui duik vir JP Pietersen op Nuweland in ’n toets in 2008 wat die All Blacks met 19-0 gewen het. Foto: Getty Images

In albei gevalle het daar dus ’n herboufase gevolg.

Hoewel Erasmus gaan afstand doen van die afrigterspos, gaan hy steeds as direkteur van rugby nou betrokke wees. Die groot gunsteling om in sy pos aangestel te word, is boonop Jacques Nienaber. Hy is tans ’n hulpafrigter en die argitek van die Bokke se rotsvaste verdediging.

Dié span is ook effens meer volwasse, glo dit of nie. Die beginspan wat in die eindstryd gespeel het, het ’n gesamentlike totaal van 694 toetse agter die blad gehad. In 2007 was die gekombineerde aantal toetse 668 en in 1995 slegs 179 (omdat die land maar drie jaar tevore eers uit isolasie teruggekeer het).

Die gemiddelde ouderdom van die beginspan in 1995 was 26,5, in 2007 was dit 26,8 en vanjaar 28,1. Die spelers is ouer en dalk ietwat meer emosioneel volwasse en dus opgewasse om gouer weer op koers te kom.

Wat ook goed is, is dat ’n groot kern van die spelers nog jonk genoeg is om in die volgende WB te speel – ook spelers wat deel van die groep was, maar nie die span vir die eindstryd gehaal het nie. Nou kan daar onmiddellik op die volgende doelwitte – die Leeus-toer in 2021 en die WB in Frankryk in 2023 – gefokus word.

WB-babelaas het die Bokke in die verlede al platgetrek, maar dit blyk asof die span dié keer die regte remedie het om te sorg dat 2020 op dieselfde hoë noot afskop as die een waarop 2019 geëindig het.