Die Springbokke het Saterdag in Jokohama met hul oorwinning van 32-12 oor Engeland die eerste span geword om die Rugbykampioenskap en die Wêreldbeker in dieselfde jaar te wen.

Suid-Afrika is ook die eerste span om ’n groepwedstryd te verloor en dan as wêreldkampioen gekroon te word. Hendrik Cronjé skryf oor vyf punte wat deurslaggewend in Suid-Afrika se oorwinning oor Eddie Jones se span was.

South Africas Makazole Mapimpi scores a try during
South Africas Makazole Mapimpi scores a try during the Rugby World Cup final at International Yokohama Stadium between England and South Africa in Yokohama, Japan, Saturday, Nov. 2, 2019. (AP Photo/Koji Sashara)

Le Roux, Mapimpi wen lugstryd

Engeland sou vooraf glo hulle sal die lugstryd teen die Bokke wen aangesien die Suid-Afrikaners nie altyd in die afdeling oortuig nie.

Gelukkig vir die Bokke was Willie le Roux en Makazole Mapimpi op die gegewe dag uitstekend in die lug.

Le Roux het sy beste vertoning van die toernooi vir die eindstryd teruggehou.

Hy het nie ’n fout onder die hoë bal gemaak nie teen ’n span wat met Ben Youngs, George Ford en Owen Farrell oor ’n uitstekende skopplan beskik.

Afgesien van sy lugspel was Le Roux se eie skopwerk en selfs sy verdediging puik in die eindstryd.

As daar ’n leemte in Mapimpi se spel was toe hy in 2018 in Washington DC sy toetsbuiging teen Wallis gemaak het, was dit sy lugspel.

Die wyse waarop hy selfs teen Elliot Daly in die eindstryd die baas in die lug was, wys hoeveel sy spel in die afdeling verbeter het.

Hy en Cheslin Kolbe is ook twee van die vleuels wat die beste in wêreldrugby afrond soos hulle teen Engeland gewys het.

YOKOHAMA, JAPAN - NOVEMBER 02: Cheslin Kolbe of So
Cheslin Kolbe Handre Pollard en die impakspelers , RG Snyman en Franco Mostert vier die Bokke se tweede drie laat ind ie wedstryd.

Rassie se blomkooloor-taktiek werk

Al sy planne werk nie altyd uit soos hy graag wil hê nie, maar met Rassie Erasmus kan jy altyd die onverwagse en ’n sterk dosis kreatiwiteit verwag.

Sy plan om ses voorspelers, eerder as die tradisionele vyf, op sy bank in die groepwedstryd teen Italië te kies en enduit daarmee te volhard, was in die eindstryd én toernooi geslaagd.

Op so ’n wyse kon hy die Suid-Afrikaanse sterkpunt, die kragtige en hardwerkende voorspelers, tot die Bokke se maksimum voordeel aanwend.

Soos deurlopend in die toernooi die geval was, het die blomkooloor-impakspelers ’n verskil teen Engeland gemaak nadat die beginspan-voorspelers aanvanklik die sagmaakwerk gedoen het.

Die Engelse agttal kon eenvoudig nie vir ’n volle 80 minute byhou nie omdat hy nie dieselfde spelers van gehalte soos ’n Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Vincent Koch, Franco Mostert, RG Snyman en Francois Louw op sy bank gehad het nie.

Welgedaan ook aan die Bokke se voorspelerafrigter, Matt Proudfoot, wat vir die Suid-Afrikaners se skrumwerk en lynstaanspel verantwoordelik is.

YOKOHAMA, JAPAN - NOVEMBER 02: Kyle Sinckler of En
Kyle Sinckler van Engeland ontvang behandeling binne die eerste paar minute van die eindstryd.

Besering ontwrig Engelse

Die invloed wat die vaskopstut Kyle Sinckler se besering in die derde minuut op die Engelse se vertoning gehad het, is massief.

Hy anker hul skrum en was ’n week vantevore as baldraer ’n sterspeler in Engeland se sege oor die All Blacks. Dit was daarom ’n dubbele slag vir hulle toe hy ná ’n harde kopstamp die veld verlaat het.

Sy plaasvervanger Dan Cole mag ervare wees, maar het nog nooit as ’n skrumwerker beïndruk nie.

Selfs Jones het vroeër vanjaar in die Sesnasies vertroue in hom verloor en hom weggelaat.

Beast Mtawarira was eenvoudig uitmuntend in die wyse hoe hy Cole se wankelrige skrumwerk uitgebuit het en reeds voor rustyd vier strafskoppe afgedwing het.

Dít, Sinckler se besering en hul skrumwerk, is waar Engeland se probleme begin het en ’n afdeling wat die Bokke momentum in die eindstryd gegee het.

Jacques Nienaber, die Springbokke se verdedigingspesialis.

Bokke se duikwerk beste ter wêreld

Die Bokke het van hul voorste aanvallende spel in die Wêreldbeker teen Engeland gelewer, maar dit was grootliks hul verdediging, met Jacques Nienaber as die meesterbrein daarvan, waarop hul gesteun het om tot die eindstryd deur te dring.

Die wyse wat Siya Kolisi-hulle in ’n stadium vir 25 fases op hul doelgebied soos trojane verdedig het om te verhinder dat Engeland ’n drie behaal en Farrell eindelik uit moedeloosheid laat besluit het om met ’n strafskop in die 35ste minuut na die pale te korrel, sou ontsettend baie vir die Bokke se selfvertroue beteken.

Lukhanyo Am, Siya Kolisi, Eben Etzebeth en Mostert se verdediging was veral in die tydperk uitstaande.

Al was Mostert net 58 minute op die veld, was sy 16 duikslae die meeste deur enige Bok.

Etzebeth met 13 en Kolisi met 12 het self in die afdeling hand opgesteek.

In die proses kon Engeland geen drieë teenoor die Bokke se twee behaal nie.

Jerome Garces
Jerome Garces (Getty Images)

Gee die Fransman krediet

As ’n mens Jérôme Garcès dikwels uit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt kan kritiseer vir van sy beslissings, moet ’n mens ook erken wanneer hy vanaf die Bokke se kant van die draad ’n goeie vertoning lewer, soos in die eindstryd die geval was.

Die wyse waarop hy die Bokke, wat die oorhand in die skrums gehad het, vir dié sterkpunt vergoed het wanneer Mtawarira vir Cole in trurat gedruk het, het ’n groot invloed op die verloop van sake gehad.

Uit ’n Engelse oogpunt word die laaste aangee wat tot Mapimpi se drie gelei het bevraagteken. Daar word selfs gevra of Faf de Klerk nie met ’n geelkaart gestraf moes word toe hy in ’n stadium die bal uit Ben Youngs se hande geklap het nie.

’n Mens voel egter dat Garcès op die dag ’n veel beter wedstryd as Engeland beleef het.

Puntemakers:

Springbokke 32 (12). Drieë: Makazole Mapimpi, Cheslin Kolbe. Doelskoppe: Handré Pollard (2). Strafdoele: Pollard (6).

Engeland 12 (6). Strafdoele: Farrell (4).