Dit was in ’n boekwinkel en by ’n vulstasie waar Chris Rossouw besef het sy oudkaptein Francois Pienaar het dalk ’n punt beet – dié Wêreldbeker-oorwinning beteken miskien nog meer as die een in 1995.

“Ek het nou die dag in ’n boekwinkel ingeloop en daar staan twee wit seuntjies en skree: ‘Dis Siya, dis Siya se boek!’ Skielik het ons ’n gemeenskaplike held,” sê Rossouw, wat die haker van die span was wat die toernooi 24 jaar gelede vir die eerste keer gewen het.

“Ek loop toe na ’n vulstasie toe en ek skree vir die mense: ‘Siya for president!’ Hulle skree toe luidkeels saam.

“Dit beteken só baie vir ons land. Dit was great in 1995, maar ek dink ons het ook op die golf van die Mandela-harmonie gery. Dié keer voel dit vir my na ’n meer . . .” Hy soek na die regte woord, volstaan dan by: “geïntegreerde oorwinning”.

Rossouw meen spelers soos die Bok-kaptein, Siya Kolisi, moet vrede maak daarmee dat hulle nou oral in aanvraag gaan wees. Hy het dit ervaar nadat die Bokke die All Blacks in die eindstryd in 1995 geklop het.

Die spelers is nou hot property.
Chris Rossouw

“Ons was so bevoorreg en ons pluk vandag nog die vrugte van daardie Wêreldbeker. Hoe ouer jy word, hoe meer word daar van jou ’n rolmodel gemaak. Mense wil amper standbeelde van jou oprig.

“Die spelers is nou hot property. Hulle gaan na manne-aande genooi word. Ek hoor op ’n radiostasie hulle wil nou met Duane Vermeulen gesels.”

Dit was nie vir hom ’n groot aanpassing nie, sê hy. Die kollig val nooit so skerp op ’n haker nie . . .

“Jy kry maar jou Groot Vyf – ouens soos Faf (de Klerk) en Duane. In ons tyd was dit Joel Stransky, Francois Pienaar, James Small, Joost van der Westhuizen en Chester Williams.

“Ou Chris Rossouw was maar onder die dekmantel,” lag hy.

Hennie le Roux tydens die openingswedstryd van die Wêreldbeker-toernooi in 1995. Foto: Gallo Images

Hennie le Roux, wat die binnesenter van die 1995-span was, sê ’n speler se lewe verander nadat hy vonkelwyn uit die Webb Ellis-beker gedrink het.

“Skielik is daar baie meer mense wat van jou tyd vra en dit is die rol wat iemand vertolk wat daardie vlak bereik het,” sê Le Roux.

“Jy gaan van iemand wat professioneel is, na iemand wat mense glo insig het. Die aandag wat jy kry, verdriedubbel.

“Mense sien jou as ’n kenner in jou gebied en soek gespreksgeleenthede en soek insig oor wat tot daardie sukses gelei het.

“Dit is wat gebeur as jy ’n Wêreldbeker wen. Dit kom met positiewe en negatiewe . . . Dalk is negatiewe nie die regte woord nie,” lag hy.

“Dit kom met verantwoordelikheid. Mense herken jou en jy moet jou op ’n manier gedra wat jou nie in die skande gaan stel nie.”

Hy sê dit neem ’n tydjie om daaraan gewoond te raak.

“Vir die eerste jaar of twee is die aandag lekker. Dit voel goed, want jy het iets bereik wat baie min mense in hul lewens bereik. Daarna bly jy vir altyd iemand wat as ’n geskiedkundige wenner gesien word.”

Hy het wel ’n tikkie raad vir die nuwe wêreldkampioene.

“Hoe jy jou tyd bestee, is wat saak maak. Dit is wat belangrik is.”