Charney van der Merwe, Lesley Demas, Anna Louw, Bianca Beyers en Rhona Bezuidenhout.Foto: Verskaf

’n Video waarin personeel van die Spar in Tulbagh in die Wes-Kaap lostrek met ’n blitsskare-vertoning waarin hulle gees vang en die Springbokke ondersteun, het mense op sosiale media gaande.

Die video is verlede Donderdag opgeneem vir die Wes-Kaapse Spar-kompetisie waarin winkels wat die beste gees vang geldpryse kan wen, sê Tania Visagie, vrou van een van die vennote, W.J. Visagie.

Sy en Charlotte Raats, vrou van die ander vennoot, Wemar Raats, het die vertoning gereël.

Die kompetisie het reeds op 27 Oktober gesluit en die wenners sal op 4 November aangekondig word.

Lizidia Adams, Navillia Lewis, Charmaine Scholtz, Miela Fransman en Randall Kock. Foto: Verskaf

Daar sal drie wenners vir onderskeidelik Kwikspar, Spar en Superspar wees. Elke wenner sal R10 000 kry.

Visagie sê die video/foto-album waarvan mense die meeste op die Spar Western Cape se Facebook-blad hou, sal wen.

Sy sê die vertoning is in ’n japtrap gereël.

Willem, haar 14-jarige seun, het die video op sy selfoon geredigeer.

“Ons het daaraan gedink om iets anders te doen, maar dit is verstommend hoeveel mense dit al gesien het. Die laaste keer toe ek gesien het, het 80 000 mense dit al gekyk. Dit is oorweldigend.”

Wemar Raats, vennoot, saam met die personeel.Foto: Verskaf
Een van die vennote, W.J. Visagie, saam met die personeel.Foto: Verskaf

Sy sê klante was dol oor die vertoning. “Een klant wat net een item gekoop het, het vir 30 minute lank in die winkel gebly. Dit was lekker om te sien.”

Raats sê hulle het aan die kompetisie deelgeneem omdat hulle graag iets vir die personeel wil teruggee.

“Hulle beteken baie vir ons. Hulle is so vriendelik en ons wou net terugploeg.”

As hul winkel wen, sal die geld onder die personeel verdeel word, sê sy.

Raats sê om die vertoning te hou en die video te maak, het die personeel bly gemaak. “Hulle voel asof hulle op die televisie verskyn het.”

Die video is reeds deur meer as 90 000 mense gekyk. Meer as 1 000 het aangedui dat hulle daarvan hou en dit is meer as 2 000 keer gedeel.

Saterdag wanneer die Springbokke om 11:00 (SA tyd) Engeland die groot stryd aansê, sal hulle “tipies Suid-Afrikaanse” lekkernye soos Springbok- en Groen-en-goud-kolwyntjies verkoop.

En gaan die Springbokke hierdie Wêreldbeker wen? Beslis, sê Visagie.

Kyk hier na die video