Die Ierse senter Bundee Aki se Wêreldbekertoernooi is verby nadat hy Maandag vir drie wedstryde geskors is ná ’n gevaarlike duikslag op die Samoaanse losskakel Ulupano Seuteni.

Aki het die Samoaan met die linkerskouer teen die kop getref.

Die voorval het in Saterdag se wedstryd in Groep A plaasgevind en Aki is deur die skeidsregter, Nick Berry, met ’n rooikaart afgestuur.

Wêreldrugby se onafhanklike tugkomitee, wat bestaan het uit advokaat Adam Casselton van Australië, ’n voormalige Skotse afrigter Frank Hadden en die Roemeense skeidsregter Veleriu Toma, het tydens Maandag se tugverhoor beslis dat daar direkte kontak met Seuteni se kop was en dat Aki nie ’n doelgerigte poging aangewend het om laer te duik nie.

Aki is aanvanklik vir ses wedstryde geskors, maar nadat die komitee sy goeie dissiplinêre rekord in ag geneem het, is die skorsing na drie wedstryde verminder.

Aki sal dus Saterdag se kwarteindstryd teen Nieu-Seeland en ’n moontlike halfeind- en eindstryd misloop.

As Ierland deur die All Blacks geklop word, sal hy twee wedstryde vir Connacht in die Pro14-reeks misloop. – rugbyworldcup.com