Die ringkoppe van Nieu-Seelandse rugby moet meer diversiteit in die afrigtingskorps van die All Blacks bring deur afrigters van Maori- of Suidsee-afkoms aan te stel.

Die Nieu-Seelandse senter Sonny Bill Williams, wat van Samoaanse afkoms is, het dié pleidooi Maandag gelewer. Volgens hom is al hoe meer spelers van die nasionale span Maori’s of van die Suidsee-eilande en sal afrigters wat dieselfde kultuur en soortgelyke agtergronde het, waarskynlik beter resultate met die spelers kry.

“Daar is baie afrigters wat die einde van die jaar klaarmaak,” het Williams in Tokio gesê, waar die All Blacks voorberei vir hul kragmeting teen Wallis om die bronsmedalje in die Wêreldbeker-toernooi.

Een ding wat ek waarskynlik aan hulle (Nieu-Seeland Rugbyunie) sal noem, is dat dit goed sal wees om ’n Maori of iemand van die Suidsee-eilande in die afrigtingskorps te sien.
Sonny Bill Williams

“Een ding wat ek waarskynlik aan hulle (Nieu-Seeland Rugbyunie) sal noem, is dat dit goed sal wees om ’n Maori of iemand van die Suidsee-eilande in die afrigtingskorps te sien – iemand wat ’n bietjie invloed het.

“Want deesdae is daar baie ouens van die eilande en Maori’s wat vir die All Blacks speel. Ek dink net hoe ons ’n bietjie meer uit daardie spelers kan kry. En ek weet hier is ruimte vir daardie groei,” sê die 34-jarige Williams.

Meer as die helfte van die All Blacks wat in die Wêreldbeker in Japan is, is Maori’s of van Suidsee-afkoms, terwyl omtrent die hele afrigtingskorps Pakeha is, soos wat daar na wit Nieu-Seelanders verwys word.

Steve Hansen
Steve Hansen

Met die All Blacks se afrigter, Steve Hansen, wat teen Wallis die laaste keer aan die stuur gaan wees as afrigter, word daar druk bespiegel oor wie hom gaan opvolg.

Ian Foster, een van die hulpafrigters, het reeds aangedui dat hy kans sien vir die pos, nadat hy sedert 2012 ’n assistent is.

Tog het Williams, wat na verwagting ook binnekort sy uittrede gaan aankondig, met vernuftige voetwerk die vraag omseil wie hy dink Hansen moet opvolg en eerder ’n beroep op diversiteit gedoen.

Nieu-Seeland se bevolking van sowat 4,8 miljoen mense is grootliks van Europese afkoms (70%), terwyl die Maori’s sowat 16,5% is. Diegene van Suidsee-afkoms beloop sowat 8,1% van die bevolking, volgens Statistieke Nieu-Seeland.

Verskeie afrigters van Maori-afkoms het al Nieu-Seelandse spanne in die Superrugby-reeks afgerig, maar slegs twee, Pat Lam en Tana Umaga, wat van Suidsee-afkoms is, het al op dié vlak afgerig. – Reuters