Die All Black Ardie Savea sal met ’n spesiale bril Woensdag teen Kanada in die Wêreldbekertoernooi in Oita, Japan, speel omdat sy sig versleg het.

Savea (25) sal die spesiale bril dra omdat die sig in sy linkeroog die afgelope twee jaar merkbaar agteruitgegaan het.

Dié losvoorspeler het hom tot die All Blacks se spandokter, Tony Page, gewend, wat toe ’n bril gevind het wat deur Wêreldrugby goedgekeur word.

Savea se spanmaat Beauden Barrett, wat Woensdag weer die laaste vesting gaan beman, was onbewus van sy spanmaat se verswakkende sig, ten spyte daarvan dat hulle ook jare lank spanmaats by die Hurricanes was.

“Dit het as ’n effense verrassing vir ons gekom, omdat hy nooit daaroor gekla het nie,” het Barrett voor die aanvang van die span se laaste oefensessie voor Woensdag se kragmeting gesê.

“Maar dit maak sin. By sekere oefensessies of in wedstryde het hy dikwels sy oë meer as gewoonlik geknip. Ek kan nou aan ander voorvalle ook dink, so dit maak beslis sin.”

Ook Ian Foster, hulpafrigter van die All Blacks, sê hy het tevore bitter min van Savea se probleme geweet en het gedink die bril is bloot om oë te beskerm.

“Dit is al ’n geruime tyd wat die sig in sy een oog aan die verswak is en hy het dit (die bril) nodig. Ek weet nie baie van die bril af nie. Al wat ek weet is dat die gebruik daarvan deur Wêreldrugby goedgekeur word en dat ander spelers dit ook tevore gedra het,” het Foster gesê.

“Alles word ’n bietjie wasig,” het Savea in ’n verklaring gesê. Ek het aan Tony gesê dat dit erger word en ons het besluit om dit te hanteer.

“Wat jou sig betref, is die bril baie goed – dit is nou net om daaraan gewoond te raak.”

Wêreldrugby het in Mei vanjaar die gebruik van ’n beskermende bril goedgekeur.

Savea is egter nie die eerste internasionale speler wat ’n bril sal dra op die speelveld nie.

Ook Italië se losskakel Ian McKinley dra ’n soortgelyke bril, nadat hy die sig in sy een oog in 2011 verloor het.

Hy het aanvanklik rugby opgegee, maar weer sy stewels in 2014 aangetrek om klubrugby in Italië te speel, voordat Conor O’Shea, afrigter van die Italianers, hom by die nasionale span betrek het.

McKinley, ’n boorling van Ierland, verteenwoordig nie vanjaar sy aangenome land by die skouspel in Japan nie.

– Reuters