Die bedreiging wat die All Blacks met hul aanvallende spel inhou, laat Jacques Nienaber langer ure werk en baie koffie drink.

“Hulle (die All Blacks) hou jou laat wakker,” sê Nienaber.

“Hulle bring altyd iets nuuts na die tafel en het (die afgelope paar maande) beslis op die aanval verbeter.”

Nienaber is die meesterbrein agter die Bokke se opskietverdedigingstelsel waarmee hulle sover vanjaar grootliks sukses behaal het. Dit is veral in die Rassie Erasmus-era ’n kopseer vir die All Blacks.

Die Bokke berei hulle dus daarop voor dat die All Blacks in Saterdag se Wêreldbeker-groepwedstryd in Jokohama as teenvoeter vir Nienaber se stelsel met ’n paar nuwe aanvalsplanne vorendag sal kom.

Nienaber, wat as gewild deur die spelers beskryf word en hul insette verwelkom, werk al sedert 2016 aan sy opskietverdedigingstelsel.

“Ek het dit die eerste keer met die Junior Bokke probeer. Hulle was die proefkonyne. Ons het dit toe in 2016 se reeks teen Ierland gebruik. Daarna is ek na Munster waar die stelsel verder ontwikkel het.

“Die aanval het so goed geraak dat die tradisionele verdedigingstelsels nie meer werk nie. Die ou stelsel was nie meer doeltreffend nie. Hulle het wyses gevind om dit af te breek. Ons moes dit verander.

“Ons weet nog nie waarheen ons presies op pad is hiermee nie, maar ons het beslis verandering nodig. Ek verwys nie net na die Bokke nie, maar na verdedigingsafrigters wêreldwyd.”

Jacques Nienaber staan langs Rassie Erasmus. Foto: Getty Images

Volgens hom kon spanne balbesit tot in 40 fases met die vorige verdedigingstelsels behou. Spanne se aanvallende spel het volgens hom baie sedert 2011 verbeter, veral vanweë voorspelers se verbeterde vaardighede.

“Verdedigingsafrigters moes noodgedwonge aanpas. Ons (die Bokke) wil egter nie net as ’n verdedigende span beskou word nie. Ons probeer die regte balans (tussen aanval en verdediging) vind.

“Ons het in die Rugbykampioenskap probeer drieë druk. Soms kan jy met en sonder die bal in die hand aanval.”

Nienaber en Erasmus stap ’n lang pad saam.

Hy was destyds die fisioterapeut van die Cheetahs toe Erasmus die Vrystaters se hoofafrigter was.

Erasmus het Nienaber se verantwoordelikhede begin uitbrei. Hy het hom aanvanklik by die Cheetahs begin aanmoedig om die spelers met hul opwarming voor oefeninge te help.

Sy liefde vir verdediging het mettertyd ontwikkel soos hy en Erasmus se verhouding versterk het en hulle meer tyd saam voor die rekenaar deurgebring het.

Nienaber is later saam met Erasmus na die Kaap waar hy ’n spesialisverdedigingsafrigter by die Stormers geword het.

Hy erken hy wou in ’n stadium te veel hê dat alles rondom verdediging in spanne moes draai.

“Ek het egter sedert my dae by die Stormers as afrigter aangepas. Daar móét ’n balans tussen aanval en verdediging wees.”

Vanjaar is Erasmus en Nienaber se tweede Wêreldbekertoernooi saam. Hulle was in 2011 ook deel van Peter de Villiers se bestuurspan. Nienaber was toe vir die Bokke se skoonmaak (exits) en verdediging verantwoordelik, terwyl Erasmus ’n tegniese raadgewer was.

Die Bokke sal in vanjaar se Wêreldbeker baie op dié ervaring steun wat Nienaber-hulle in 2011 opgedoen het.