Die nederlaag teen die All Blacks sal die Springbokke volgens Jacques Nienaber sterker in die Wêreldbeker-toernooi maak.

“Ons stelsels is nog aan die ontwikkel. Nieu-Seeland het ons gewys wat ons moet aanspreek,” sê die Bok-hulpafrigter en hul spesialis-verdedigingafrigter.

“Dit was lekker om daardie insig te kry en daaraan te begin werk.

“Ek het vir Rassie (Erasmus) gesê dit was eintlik goed dat een van ons groepwedstryde (teen die All Blacks) soos ’n halfeindstryd was.

“Ons het baie uit dit geleer. Ons is op alle vlakke in die aanloop tot en tydens die toets, selfs sielkundig en wat die grootsheid van die wedstryd betref, getoets.”

Baie van die lesse wat die Bokke geleer het, hoop hulle om reeds in Saterdag se Wêreldbeker-groepwedstryd teen Namibië in Toyota toe te pas.

Dit sal vir Nienaber meer bevredigend wees om groei in die Bokke se stelsels te sien, as om net byvoorbeeld drie of geen punte teen Namibië af te staan nie.

Hy sê daar was die week baie energie en fokus op die oefenveld.

“Baie van die ouens het vir twee of drie weke nie gespeel nie, so daar is baie energie. Aangesien ons (al 31 spelers) saam in die Rugbykampioenskap was, was dit lekker om dié week weer met die ouens (wat teen Namibië speel) te werk.

“Daar het ’n lekker gees wat die intensiteit en die dinge wat ons wil regstel, geheers.

“Ons wil ons spel verbeter wat ons aanval, verdediging, skopwerk, sielkundige ingesteldheid en werksetiek betref.

Om vordering daarmee te sien, sal vir my meer bevredigend wees as hoeveel punte ons afstaan of nie.

“As ons net drie punte afstaan (teen Namibië) sal dit ’n goeie vertoning op die verdediging wees. As ons 30 afstaan, sal ek teleurgesteld wees. Maar daar is groter dinge wat ons in die toets wil bereik.

“Uiteraard was daar tekortkominge in ons toets teen Nieu-Seeland. Ons wil daarop verbeter, aan ons stelsels bou én die vaardigheidvlakke van ons spelers in dié stelsel ontwikkel.

“Om vordering daarmee te sien, sal vir my meer bevredigend wees as hoeveel punte ons afstaan of nie.”

Namibië is grootliks ’n onbekende faktor vir die Bokke, maar het nie ’n goeie rekord teen Suid-Afrika of in die WB-wedstryde nie.

Suid-Afrika het sy vorige twee toetse teen Namibië met 105-13 in ’n WB-opwarmingwedstryd in 2007 en 87-0 in 2011 se WB-toernooi in Nieu-Seeland gewen.

Die Bokke het in dié toetse 27 drieë ingeryg.

Saterdag se toets in Toyota sal Namibië se 21ste wedstryd in die Wêreldbeker wees. Hy was in al 20 sy vorige wedstryde aan die verloorkant.