Eddie Jones glo Engeland beskik oor die vermoë om Nieu-Seeland in Saterdag se Wêreldbeker (WB)-halfeindstryd te klop, mits sy spelers nie deur die All Blacks se sterstatus verblind word nie.

Engeland droom groot in Japan nadat hy Australië verlede naweek met 40-16 in Oita oorrompel het, maar BBCSport berig Jones besef sy span het ’n berg om te klim teen die verdedigende kampioen in Jokohama.

“Jy wil jou altyd teen die beste meet en hulle is die beste, niemand kan daarmee stry nie,” sê die Aussie.

“Nieu-Seeland is ’n goeie span met ’n goeie afrigter, maar soos enige span kan hulle geklop word. Maar ek dink ’n mens raak maklik deel van die skouspel,” waarsku Jones oor die aura van onoorwinlikheid wat die All Blacks omring.

Die Kiwi’s, onoorwonne in ’n WB-wedstryd sedert 2007, het Saterdag gemaklik met 46-14 met Ierland afgereken.

“Jy sien wat gebeur het met Ierland, wat ek dink gebeur het. Hulle het regtig eers begin vertoon toe die wedstryd reeds verlore was. Jy moet van meet af aan uithaal en wys as jy teen een van die beste spanne speel. Dit gaan vir ons baie belangrik wees.”

Die All Blacks het verlede jaar op Twickenham die reën trotseer om met Engeland af te reken. Foto: Getty Images

Engeland het verlede November in gure weer op Twickenham naelskraap met 15-16 teen Nieu-Seeland verloor in die enigste kragmeting tussen die spanne sedert Jones aan die einde van 2015 die leisels by sy voorganger Stuart Lancaster geneem het.

Jones glo egter sy spelers is op die punt van grootheid nadat Engeland vir die eerste keer in 12 jaar die halfeindronde gehaal het.

“Ek het ’n span gesien met die potensiaal om groot dinge te vermag, dit is waarom ek hierdie pos aanvaar het,” sê hy.

“Dit was die uitdaging en hulle begin daarin glo. Ons uitdaging vandeesweek is om mee te ding teen die beste sportspan tot nog toe. Ons moet dit as ’n afsonderlike wedstryd beskou, eerder as om dit te probeer betrek by vorige vertonings.”

Jones dring daarop aan dat dit harde werk op die oefenveld is, nie rou talent nie, wat die huidige Engelse span onderskei.

“Jy moet oor talent beskik om jou voet in die deur te kry, maar dan moet jy ’n uitstekende werksetiek nastreef, jy moet meedoënloos wees. Werk is moeilik, die meeste mense wil dit nie doen nie.”

Jones, Australië se afrigter toe Engeland die Wallabies in die WB-eindstryd in 2003 geklop het, sê ook hy het min simpatie vir Michael Cheika, wat die tuig neergelê het ná afloop van sy span se nederlaag.

“Julle sou my geroskam het as ons Saterdag verloor het. Kom ons raak nie te emosioneel of laf hieroor nie. Ek is nie ’n Australiër nie, ek is ’n Engelse afrigter. Miskien moet julle dit uitwerk.”

– Sportredaksie