Steve Hansen, All Black-afrigter, sê hy is nie bekommerd dat sy spelers nie skerp genoeg sal wees wanneer hulle Saterdag in die Wêreldbeker (WB)-kwarteindronde die Iere pak nie.

Daar is ook geen sprake daarvan dat die All Blacks oorgerus is nie, verseker hy.

Omdat Nieu-Seeland se laaste groepwedstryd teen Italië weens die tifoon Hagibis gekanselleer moes word, beteken dit die Kiwi’s se laaste wedstryd in die toernooi was op 6 Oktober, toe hulle Namibië maklik met 71-9 geklop het.

Hansen se span het boonop ’n tydperk van 11 dae gehad tussen hul eerste wedstryd teen Suid-Afrika en die tweede teen Kanada.

Daar word in die Nieu-Seelandse media gemaan dat die All Blacks die kwarteindstryd teen Ierland ietwat verroes ingaan. Hansen sê egter hulle het verlede week ’n wedstrydscenario nageboots in ’n intense oefensessie en sy spelers is slaggereed.

Ons weet teen wie ons speel. Hulle is ’n span van gehalte, wat nommer een (op die wêreldranglys) was vanjaar.

“Om ’n week af te hê, is nie ’n slegte ding nie. Dit het ons toegelaat om baie hard te werk. Die GPS-statistieke wys ons het op dieselfde vlak en soms teen ’n hoër pas as in ’n toets geoefen, so ons beskou dit (die beplande wedstryd teen Italië) nie as ’n verlore geleentheid nie.”

Hy sê hulle is deeglik bewus van hul teenstanders.

“Ons weet teen wie ons speel. Hulle is ’n span van gehalte, wat nommer een (op die wêreldranglys) was vanjaar. Die laaste drie uitslae teen hulle was verloor, wen, verloor, so ons sal nie oorgerus wees nie.”

In die Nieu-Seelandse media word daar gesê dat oorgerustheid in die 2007-toernooi tot die All Blacks se ondergang in die kwarteindronde gelei het.

Die Kiwi’s was daardie jaar onstuitbaar in die groepfase en het teen ’n Franse span te staan gekom wat skaars vir die kwarteindronde kon kwalifiseer. Die slot Keith Robinson is vir die wedstryd gekies nadat hy van ’n kuitbesering herstel het. Graham Henry, wat destyds die All Blacks afgerig het, het gesê Robinson moet speeltyd kry voor die halfeindronde, wat die Kiwi’s toe nie beskore was nie.

Die Hane het uiteindelik verras toe hulle die groot gunsteling met 20-18 in Cardiff uitgeskakel het.

Dít is soortgelyk aan die huidige situasie met die slot Brodie Retallick. Retallick het die begin van die toernooi met ’n skouerbesering misgeloop en nog bitter min tyd op die veld deurgebring.

Ian Foster, hulpafrigter, sê intussen “die fokus op detail is enorm”.

“Ons weet almal kom vir ons elke keer wanneer ons speel. Dit is hier waar jy jouself wil bewys, teen ’n wonderlike span op die groot verhoog.” – Reuters