Vergeet ’n wyle van die spelers, gooi maar eerder enetjie met eish op die All Blacks se afrigtingspan.

Eerder as om sy spelers vir hul spogoorwinning oor Ierland in die Wêreldbeker-kwarteindstryd te loof, het die All Black-afrigter, Steve Hansen, Saterdagaand in Tokio hulde gebring aan sy afrigters vir die Nieu-Seelanders se sege van 46-14 oor Ierland.

“Ons aanvallende spel is op die volgende vlak, dankie daarvoor Ian (Foster, die aanvallende afrigter),” het ’n tevrede Hansen gesê.

“Fozzie het ons aanval regtig baie, baie goed aan die gang. Hy rig waarskynlik die beste af wat ek nog gesien het.”

Met Beauden Barrett, Sevu Reece, George Bridge en Aaron Smith aan die spits, het die All Blacks veral in die eerste 40 minute van die aanskoulikste rugby tot dusver in die toernooi gespeel.

Barrett, wat as die Speler van die Wedstryd aangewys is, was trots op sy span se vertoning.

“Ierland het in ons vorige ontmoeting voorlangs die oorhand gehad,” het Barrett gesê.

“Ons het geweet dinge moet voorlangs begin. Die werk wat die groot manne gedoen het, om lang tydperke in die toets te oorheers, het ons agterspelers gehelp om die ruimte te ontbloot. Dit was ’n groot poging.”

Die All Blacks se verdediging het volgens Hansen hul aanvalle aangevul.

“Stormy (Scott McLeod) het ook vanjaar ’n wonderlike taak verrig om dinge aan die gang te kry met ons verdediging.

Hy (Kieran Read) lei die span baie goed. Ek dink hy is selfs op ’n hoër vlak in dié Wêreldbeker.
Steve Hansen

“My ou maat Crono (Mike Cron) verrig net so ’n goeie taak met die voorspelers.”

Nog iemand wat Hansen uitgesonder het, was sy kaptein, Kieran Read.

“Hy het baie kritiek oor sy spelpeil ná sy besering verduur, maar namate sy skouerbesering verbeter het, het sy spel ook verbeter.

“Hy lei die span baie goed. Ek dink hy is selfs op ’n hoër vlak in dié Wêreldbeker.”

Oor Engeland, die All Blacks se teenstander in die halfeindstryd, wou Hansen nie veel uitbrei nie.

“Ek sien daarna uit om teen Engeland te speel,” het hy gesê.

“Dit sal ’n massiewe uitdaging wees. Maar ons gaan eers ons sege oor Ierland geniet. Dis een wat die All Blacks, Nieu-Seeland en die spelers kan geniet. Ons sal eers Sondag aan Engeland dink.”

Joe Schmidt, die Ierse se afrigter en die kaptein, Rory Best, wat albei klaar is met Ierse rugby, is deur Hansen vir hul prestasies geloof.

“Albei het ’n yslike bydrae gelewer om Ierland in ’n span te verander wat vroeër vanjaar die nommer-een-span van die wêreld was. Baie geluk aan hulle.

“Ek weet albei wou dalk nie op dié noot klaarmaak nie, maar sport is onregverdig. Ek wil geluk wens met die ongelooflike werk wat hulle by Ierland verrig het.”

* Schmidt was platgeslaan ná sy span se teleurstellende vertoning.

“Ons het vandeesweek baie beserings gehad en kon eers Donderdag ons span finaliseer,” het die Ierse afrigter gesê.

“Ek het gevoel ons moet goed begin om ons selfvertroue ’n hupstoot te gee, wat ongelukkig nie die geval was nie. Daarna het ek geweet dinge sou altyd moeilik raak teen die All Blacks.”

Die Iere kon volgens Schmidt nie dinge bymekaarsit nie.

Rory Best verlaat die veld ná die wedstryd saam met sy kinders. Foto: Getty Images

“Jy moet die All Blacks laat werk vir enigiets, vanaand was dit nie die geval nie. Die All Blacks was terselfdertyd uitstekend.

“Hulle het dit vir ons moeilik gemaak om asem te haal. Toe hulle ons wel suurstof gee, het ons dit dadelik teruggegee deur foute te begaan soos deur nie strafdoele uit te skop nie. Hulle plaas ongelooflik baie druk met of sonder die bal op teenstanders.”

Best het dit moeilik gevind om sy emosies ná die loesing te beskryf.

“Ek is omgekrap,” het hy gesê.

“Groot manne was ná die eindfluitjie stil en in trane in die kleedkamer. Ek het ongelooflike goeie jare saam met die span gehad, maar vanaand is die fokus op die negatiewe ná die nederlaag.”