Die All Blacks het die Springbokke se kode vir hul opskietverdedigingstelsel Saterdag in Jokohama op meesterlike wyse ontsyfer en terselfdertyd uitbasuin hulle is die span om in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan te klop.

Die Kiwi’s het die Bokke met 23-13 in die International-stadion afgestof. Die nederlaag was ’n harde hou in die wind van die Bokke, maar dis allermins die einde van die Suid-Afrikaners se Wêreldbeker-veldtog.

Siya Kolisi se span sal wel nou die rekordboeke moet herskryf as hulle die Wêreldbeker wil wen, aangesien nog geen span wat ’n groepwedstryd verloor het daarin kon slaag nie.

Die Bokke se twee sterkpunte vanjaar, hul taktiese skopwerk en verdediging, was Saterdag met tye yskoud. Veral in daardie laaste sowat 20 minute van die eerste helfte. Dís waar die toets verloor is.

Die Suid-Afrikaners het die toets sterk begin, maar kon nie telborddruk met al hul balbesit in die eerste 20 minute opbou nie.

’n Deurslaggewende oomblik in die eerste helfte was toe Handré Pollard met ’n maklike strafdoel volgens sy standaarde misluk het. ’n Mens het gevoel die momentum het net daarna in die guns van die All Blacks geswaai.

Richie Mo’unga is die individu wat die Bokke se kode vir hul opskietverdedigingstelsel met sy voetaangee na sy 22-jarige vleuel, Sevu Reece, ontsyfer het. Die Bokke het nie ’n antwoord daarvoor in die eerste helfte gehad nie.

Vanweë die voetaangee na Reece wat wyd langs die kantlyn gestaan en wag het, was Makazole Mapimpi altyd in die moeilikheid as hy moes omdraai en skarrel om hom te gaan probeer duik.

Die probleem met die Bokke se opskietverdedigingstelsel is sodra die All Blacks eers die lyn suksesvol gesny het, was daar te veel gate vir die Bokke om toe te stop.

In die tweede helfte het dit veel beter met die Bokke se duikwerk gegaan.

Mo’unga se voetaangeë, ewe goeie oorslaanaangeewerk deur van sy medeagterspelers na die punte en knap aanvallende spel deur die Nieu-Seelanders is nie al rede waarom die Bokke hul swakste vertoning van die jaar gelewer het.

Waar die Bokke tot sover vanjaar puik geskop het, was die skoppe van Pollard, Faf de Klerk en Willie le Roux nie te waffers in die eerste helfte nie. Dis so al asof alles wat die afgelope tyd ter opbou van die Wêreldbeker oor die Bok-skakelpaar se gehalte gesê is, hulle onder yslike druk geplaas het.

Toe hul adrenalienvlakke eers ná rustyd bedaar het, en waarskynlik ná ’n paar harde woorde deur Rassie Erasmus, het Pollard en De Klerk weer die soort spel begin lewer waaraan ondersteuners vanjaar gewoond geraak het.

Pollard het selfs ’n mooi skepdoel oorgeklits.

Die Kiwi’s was sonder twyfel die beter span, maar ’n mens sal na die Fransman Jérôme Garcès se beslissings by die afbreekpunte moet gaan kyk.

Die Springbokke se Cheslin Kolbe word deur die All Blacks se Beauden Barrett beetgekry. Foto: Getty Images

By ’n paar geleenthede het dit gelyk of hy dalk ’n Japanse reëlboek vir die kragmeting in die hand gedruk is en hy nie verstaan het hoe spel veral by die afbreekpunte geblaas word nie. Of so het dit minstens met tye gelyk.

Die sege sal baie vir die All Blacks se selfvertroue beteken. As hulle die Wêreldbeker wil behou, moet ’n speler soos Beauden Barrett egter beseringvry bly.

Hy is een van hul grootste planmakers en ’n rugbygenie.

Daar was darem ook ’n paar positiewes aan die kant van die Bokke.

Cheslin Kolbe was uitmuntend. As hy in die wenspan was, was hy vir seker ’n aanspraakmaker vir die Speler van die Wedstryd-toekenning. Sy lugspel en aanvallende spel was van wêreldgehalte.

Damian de Allende, wat altyd baie kritiek moet verduur, het ook sy kant gebring. Steven Kitshoff het die bal dikwels sterk gedra, Pieter-Steph du Toit se werkverrigting bly indrukwekkend en Duane Vermeulen het ’n aantal goeie oomblikke in sy 50ste toets beleef.

’n Bekommernis vir die Bokke is dat die vaskopstut Trevor Nyakane die speelveld met ’n besering verlaat het.

Harde werk wag nou op die Bokke wat hul taktiese skopwerk en verdediging betref. Hulle lugspel was ook glad nie na wense nie.

Puntemakers:

All Blacks 23 (17): Drieë: George Bridge, Scott Barrett. Doelskoppe: Richie Mo’unga (2). Strafdoele: Richie Mo’unga (2), Beauden Barrett. 

Springbokke 13 (3): Drie: Pieter-Steph du Toit. Doelskop: Handré Pollard. Strafdoel: Pollard. Skepdoel: Pollard.