Die All Blacks het ’n verdere rat op die aanval gevind met Beauden Barrett, Sevu Reece en George Bridge wat in Saterdag se kwarteindstryd teen Ierland die giftigste vertoning nog deur ’n agterste driehoek in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi gelewer het.

Die Kiwi’s se puik aanvallende spel in die Tokio-stadion maak hulle ná hul oorwinning van 46-14 oor ’n flou Ierland sonder twyfel die span om in vanjaar se Wêreldbeker te klop.

Die temperatuur mag dalk ná tifoon Hagibis baie gedaal het, maar Reece-hulle het die stadion met sy wonderlike atmosfeer vuurwarm gespeel.

Met die humiditeit wat nie meer so groot rol soos in die groepfase speel nie, het die All Black-agterlyn met Aaron Smith as die dirigent van hul aanvalle veral in die eerste helfte van die beste hantering en vaardighede in die toernooi gewys.

Almal weet hoe gevaarlike speler Barrett met sy teenaanvalle en aansluiting by sy agterlyn is, maar dit was weer Reece en Bridge wat soos die geval teen die Springbokke in Jokohama was met hul aanvallende vermoë uitgestaan het.

Smith se tweede drie het juis gevolg ná ’n uitstekende agterlynbeweging en hantering waarby Jack Goodhue, Reece en Bridge betrokke was.

Reece en Bridge beïndruk weekliks meer en meer met hulle voorgevoel, vaardighede en hardlooplyne.

Smith se blitsige diens en goeie besluitneming agter ’n agttal wat grootliks die oorhand gehad het, verdien vermelding.

Hy weet hoe om die tempo van die spel blitsvinnig te maak, iets waarvoor die Iere nie ’n antwoord gehad het nie.

Hy, Barrett en Richie Mo’unga se skopwerk was ook strate beter as Johnny Sexton en Conor Murray s’n. Met sulke skopwerk soos die All Blacks s’n wen jy bekers.

Die Ierse skakelpaar het egter met tye onseker voorgekom en in die proses heelwat verkeerde besluite geneem wat hul span onder enorme druk geplaas het.

Sexton in besonder sal die toets liefs wil vergeet.

Asof dit nie erg genoeg vir sy spanmaats was dat hy in die eerste helfte met Ierland op die aanval nie ’n strafdoel by die kantlyn uitgeskop het nie, het hy dit weer in die tweede helfte gedoen.

Wat eintlik ’n lynstaan vir die Iere op die All Blacks se kwartgebied moes wees, het eindelik weens sy fout tot Matt Todd se drie gelei.

Sexton is net daarna in die 63ste minuut vervang.

Die All Blacks doen die haka voor die aanvang van die wedstryd. Foto: Getty Images

Die All Blacks sal die telling met ’n knippie sout neem aangesien Ierland se selfvertroue duidelik ’n hengse knou in die groepfase met sy nederlaag teen Japan weg het.

Saterdag se uitslag gee dalk ook ’n tikkie perspektief oor Japan se oorwinning oor ’n Ierse span wat ’n swak Wêreldbeker beleef het.

Afgesien van CJ Stander se spel, was daar Saterdag werklik nie veel om oor opgewonde te raak vir die Iere nie. Dit was ook nie die afskeidsgeskenk wat hulle vir Rory Best wou gee met sy uittrede nie.

Ofskoon die All Blacks maalvleis van die Iere gemaak het, sal hulle skrumwerk ’n bekommernis voor hul halfeindstryd teen Engeland wees.

Dié halfeindstryd het egter alle bestanddele om een van die hoogtepunte van die toernooi te wees.

Puntemakers:

All Blacks 46 (22). Drieë: Aaron Smith (2), Beauden Barrett, Codie Taylor, Matt Todd, George Bridge, Jordie Barrett. Doelskoppe: Richie Mo’unga (4). Strafdoel: Mo’unga.

Ierland 14 (0). Drieë: Robbie Henshaw. Strafdrie. Doelskop: Joey Carbery.