Die verwagting is dat die All Blacks ’n groot telling teen Kanada sal opstapel wanneer die spanne Woensdag in Groep B van die Wêreldbeker-toernooi in Oita kragte meet.

Steve Hansen, die Kiwi’s se hoofafrigter, sê egter hulle wil net daarvan seker maak dat hul WB-veldtog “in die regte rigting beweeg”.

Die verdedigende kampioen behoort dié groep maklik te wen nadat hy Suid-Afrika in sy eerste wedstryd in die toernooi geklop het.

Nou is die plan om – in die aanloop tot die kwarteindronde – veranderinge te maak teen Kanada, Namibië en Italië.

“Ons moet net aanhou kombinasies bou, ons aanvallende spel opskerp en die toestande verder onder die knie kry,” sê Ian Foster, hulpafrigter.

“Die wedstryd teen Kanada is ideaal om te groei, maar dit is ook ’n toets en ons moet eerstens toesien dat ons ’n goeie uitslag kry.”

’n Bonuspuntsege oor ’n span wat 22ste op die wêreldranglys is en laaste vir die toernooi gekwalifiseer het, behoort ’n formaliteit te wees.

Hoewel almal verwag dat die All Blacks ver sal wen, sê die slot Sam Whitelock dit is nie hul doelwit nie en dat hulle die toets soos enige ander benader.

“Vir die All Blacks is daar nie iets soos vlakeen- en vlaktwee-spanne nie. As jy nie respek het vir ’n span nie, gaan dit jou kos.

“Ons kyk na onsself om te probeer verbeter op die vertoning wat ons teen Suid-Afrika gelewer het. Daar is altyd iets om aan te werk,” sê Whitelock.

Die All Blacks sal ná Woensdag se wedstryd na Tokio reis om Sondag teen Namibië te speel.

Die vleuel Rieko Ioane sal hoop dat hy ’n knap vertoning teen Kanada kan lewer.

Ioane, tot onlangs een van die All Blacks se troefkaarte, is in Augustus uit die span weggelaat vir die Bledisloebeker-toets teen die Wallabies en George Bridge en Sevu Reece het hulle sedertdien as die voorkeur-vleuels in die span gevestig.

Spanne

Nieu-Seeland: Beauden Barrett, Jordie Barrett, Jack Goodhue, Sonny Bill Williams, Rieko Ioane, Richie Mo’unga, TJ Perenara, Kieran Read (k), Matt Todd, Shannon Frizell, Scott Barrett, Patrick Tuipulotu, Angus Ta’avao, Liam Coltman, Atu Moli. PLAASVERVANGERS: Codie Taylor, Ofa Tuungafasi, Nepo Laulala, Sam Whitelock, Ardie Savea, Brad Weber, Ryan Crotty, Ben Smith.

Kanada: Patrick Parfrey, Jeff Hassler, Conor Trainor, Ciaran Hearn, DTH Van Der Merwe, Peter Nelson, Gordon McRorie, Tyler Ardron (k), Matt Heaton, Lucas Rumball, Conor Keys, Evan Olmstead, Cole Keith, Eric Howard, Djustice Sears-Duru. PLAASVERVANGERS: Andrew Quattrin, Hubert Buydens, Jake Ilnicki, Michael Sheppard, Josh Larsen, Phil Mack, Taylor Paris, Andrew Coe. – Reuters

  • Skeidsregter: Romain Poite (Fr).
  • Assistent-skeidsregter: Pascal Gauzere (Fr), Alexandre Ruiz (Fr).
  • TV-skeidsregter: Marius Jonker (SA.)
  • Afskop: 12:15 (SS 1).