Die Springbok-beginspan wat Italië platgeloop het kan onveranderd vir volgende Sondag se Wêreldbeker-kwarteindstryd in Tokio gelaat word as Cheslin Kolbe betyds van ’n enkelbesering herstel.

Mzwandile Stick, hulpafrigter, bly hoopvol dat die regtervleuel oorweeg kan word. Hy het sedert sy enkelbesering teen Italië nog nie saam met die Bokke geoefen nie.

Vanweë sy invloed op die Bokke se vertonings sover in die toernooi, sal Stick-hulle hom soveel as moontlik kans gun om te herstel.

Die 25-jarige Kolbe is die Bokke se giftigste agterspeler in Japan. As hy nie beskikbaar is nie, sal dit ’n yslike terugslag voor die kwarteindstryd wees.

“Ons mediese span doen goeie werk,” het Stick gesê.

As Cheslin nie betyds herstel nie, is ons vanweë die goeie diepte en balans in ons groep bevoorreg dat ons S’bu Nkosi of Warrick Gelant kan oorweeg.
Mzwandile Stick

“Cheslin en Herschel Jantjies herstel goed. As Cheslin nie betyds herstel nie, is ons vanweë die goeie diepte en balans in ons groep bevoorreg dat ons S’bu Nkosi of Warrick Gelant kan oorweeg.

“Hulle is gereed om hul kanse aan te gryp. Ons as die afrigtingspan is werklik in ’n goeie posisie.”

Jantjies sukkel met ’n ligte dyspierbesering, terwyl Stick-hulle wat hul spankeuses vir die kwarteindstryd betref ook eers die goedkeuring van hul mediese span benodig voordat hulle Francois Louw weens ’n geswelde knie mag oorweeg.

Nie veel veranderinge word wel aan die beginspan verwag nie, maar dit sal interessant wees of Stick-hulle met die samestelling van ses voorspelers en net twee agterspelers op die bank, soos teen Italië die geval was, in die kwarteindstryd gaan volhard.

Die Bokke het in al hul ander groepwedstryde vyf voorspelers en drie agterspelers op die bank gekies.

Stick is tevrede met sy span se voorbereidings vir die kwarteindstryd. Suid-Afrika speel volgens hom al sedert die groepwedstryd teen die All Blacks uitkloprugby.

“Baie mense het verwag dat ons raakrugby teen lande soos Namibië en Kanada sal speel, maar ons het by ons plan gehou om seker te maak ons verbeter met die oog op die uitkloprondes.

“Ons voorbereidings vir die uitkloprondes het toe (teen die All Blacks) reeds begin.”

Mzwandile Stick Foto: Gallo Images

Volgens Stick was daar baie positiewes om uit die wedstryde teen spanne soos Namibië, Italië en Kanada te neem.

“Dit het ons onder meer die kans gegee om alle moontlike kombinasies op die proef te stel.

“Ons het byvoorbeeld in die laaste 20 minute teen Kanada vir Handré Pollard en Frans Steyn as ’n senterkombinasie gehad.

“Handré is ’n baie fisieke speler. Frans kan as hy besluit om fisiek te wees, ook teenstanders boelie.

“Die mededinging om plekke in die span is baie gesond. Ons afrigters bevind onsself regtig in ’n goeie posisie.”

Die Bokke word volgens hul agterlynbreier nie in ’n boks gedruk nie. Hulle word die nodige vryheid op die aanval gegun om hulself uit te druk.

“As die spelers geleenthede voor hulle sien, moet hulle dit met albei hande aangryp. Ons moedig dit aan.

“ ’n Mens sal uiteraard met vleuels soos Cheslin, S’bu en Makazole Mapimpi wil hê dat die bal hulle soveel keer moontlik moet bereik.

’n Mens sal uiteraard met vleuels soos Cheslin, S’bu en Makazole Mapimpi wil hê dat die bal hulle soveel keer moontlik moet bereik.
Mwanzile Stick

“Ons sal egter goed voorbereid wees vir die kwarteindstryd.”

Die Bokke het Saterdagoggend in reën en wind in Kobe geoefen om hulle op moontlike soortgelyke toestande in die kwarteindstryd voor te berei.

Stick-hulle reis Maandag na Tokio waar hulle van Dinsdag op hul teenstander in die kwarteindstryd fokus.