Ná ’n week van landwye vierings sluit die Springbok-rugbyspan Maandag hul oorwinningsparade met die Webb Ellis-trofee in die Moederstad af.

Dan Plato, burgemeester, sê Kaapstad is reg hom hulle te verwelkom “vir ’n geesgevulde oorwinningsparade”.

Tendai Mtawarira lig die trofee vir die skare by die Uniegebou ten tyde van die Springbokke se oorwinningstoer in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Die Bokspan het vir hul landwye toer in ’n vliegtuig van FlySafair wat in die groen-en-goud van die Bokkleure getooi is, gevlieg. FlySafair het ook ’n spesiale vlugnommer aan die vliegtuig toegeken. Vlug FA3212 gedenk die eindtelling van die Wêreldbeker-eindstryd verlede week in Japan.

Die trofee word veilig in die kajuit gebêre vir die duur van die vlug, sê Juliet Tshele, woordvoerder van die lugdiens.

Die span sal Sondag na verwagting om 17:30 land.

Die vliegtuig waarin die Springbokke deur die land reis, is in die span se kleure geverf. Foto: Verskaf

Die Kaapstad-metro sê in ’n verklaring ’n mini-konsert begin Maandag om 11:00 by die stadsaal voordat die span ook na onder meer Langa, Belhar en Elsiesrivier vertrek.

Terwyl ondersteuners op die Parade vir die Bokke wag, sal hulle deur onder meer die Afrikaanse rapper Early B, die Kaapse sanger Fancy Galada en die Suid-Afrikaanse Vlootorkes vermaak word.

“As die Kaapse metro en inwoners van hierdie mooi land, is ons trots op die harde werk wat die span ingesit het, wat tot hul kroning as Wêreldkampioene gelei het,” sê Plato in ’n verklaring.

“Ons verwelkom hulle in Kaapstad vir ’n geesgevulde parade en ek doen ’n beroep op die hele Kaapstad om uit te kom en hul ondersteuning vir die Bokke te wys. Ons wil ons dankbaarheid teenoor hulle betoon dat hulle die trofee huis toe gebring het. Ons is ook ontroer deurdat, as die kersie op die koek, Kaapstad vir die volgende vier jaar die tuiste van die Webb Ellis-trofee gaan wees.”

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se hoofkantoor is in Plattekloof, Kaapstad.

Bring ’n sambreel

Kapenaars wat die parade gaan bywoon, moet liefs ’n sambreel saambring, want daar is ’n 30%-kans op reën.

Skoliere sal ongelukkig nie verskoon word om die parade by te woon nie omdat hulle eksamen skryf.

Millicent Merton, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê geen amptelike toestemming is aan skole gegee dat leerlinge tydens skoolure die parade mag bywoon nie.

Vir Kapenaars is dié parade ekstra spesiaal omdat hulle die enigste ondersteuners is wat die losskakel Handré Pollard

in lewende lywe sal sien.

Pollard was vandeesweek in die hospitaal weens ’n gebreekte wangbeen en kon dus nie die oorwinningsparades in ander stede bywoon nie.

Dié strate gaan gesluit wees:

* Darlingstraat tussen die Parade en Corporationstraat Sondag om 17:00;

* Paradestraat tussen Caledon- en Darlingstraat;

* Darlingstraat tussen Buitekant- en Laer Pleinstraat Maandag van 08:00 tot 15:00;

* Paradestraat tussen Caledon- en Darlingstraat; en

* Corporationstraat tussen Longmarket- en Darlingstraat.

Voorlopige skedule vir die parade Maandag:

* Besoek die parlement van 09:00 tot 10:00;

* Daag om 10:15 by die stadsaal op, waar emeritus-aartsbiskop dr. Desmond Tutu hom by die span aansluit;

* Vertrek om 12:00 vir die optog deur die stad;

* Van 13:00 deur Langa, Belhar en Elsiesrivier;

* 13:30 Van Bungalaan na Washingtonrylaan in die rigting van Jakes Gerwelrylaan

* 14:30 vertrek van Langa na Belhar via die N2 – R300 na Stellenbosch Arterial en via Symphonyweg na Robert Sobukweweg.

* 15:15 in De la Reystraat, Ravensmead, via Fransie van Zyl-weg na Uitsig, en na Elsiesrivier na Jakes Gerwel-rylaan en dan na die N2; en

* 17:00 kom die bus weer in die stadskom aan.