Australiese rugbybase laat nie gras onder hul voete groei om ’n opvolger vir die Wallaby-afrigter, Michael Cheika, te vind nie.

Cheika het Sondag op sy swaard geval nadat Engeland sy span die vorige dag uit die Wêreldbeker-toernooi geboender het. Die Rose het dié kwarteindstryd in Oita op klinkende wyse met 40-16 gewen.

Rugby Australië (RA) het intussen reeds ’n lys van moontlike kandidate vir die Wallaby-pos opgestel en hoop om reeds teen Kersfees sy nuwe afrigter aan te kondig, het Raelene Castle, uitvoerende hoof van RA gesê.

Volgens Castle word dié pro-aktiewe optrede genoop deur die feit dat daar nou reeds groot mededinging is om top-afrigters se handtekeninge vir die volgende vierjaar-Wêreldbeker-siklus te bekom.

Nieu-Seeland moet byvoorbeeld nog ’n opvolger vir Steve Hansen aanwys, terwyl dit ook onseker is of Eddie Jones ná die WB-toernooi sal aanbly as Engeland se breier. Die gasheernasie vanjaar, Japan, sal moontlik ook ’n plaasvervanger vir Jamie Joseph moet vind.

Kan Eddie Jones ’n verrassende terugkeer as Wallaby-breier maak? Foto: Getty Images

Die Australiese media meen Dave Rennie, ’n Nieu-Seelander wat groot sukses met die Chiefs behaal het en tans vir Glasgow afrig, is in die binnebaan om Cheika te vervang.

Daar is egter ook sekere rugbyskrywers in Australië wat glo dat Jones, wat die Aussies in 2003 na die WB-eindstryd gevoer het, weer sy geboorteland kan afrig.

Castle is oor dié moontlikheid uitgevra, maar het geantwoord dat Jones, na haar wete, nog tot 2021 by Engeland gekontrakteer is.

“Ons het na ’n paar mense en hul moontlike beskikbaarheid gekyk en ons weet met wie ons wil praat,” het Castle gesê.

RA het belowe dat hy Australië se teleurstellende vertonings in Japan, wat deur sommiges as dié land se swakste WB-veldtog tot nog toe beskryf word, deeglik sal hersien.

Hoewel die Wallabies onder Cheika se afrigting in 2015 die eindstryd van die WB-toernooi in Engeland gehaal het, het hy uiteindelik met ’n teleurstellende wensyfer van slegs 50% in sy termyn geëindig.

RA se direkteur van rugby, Scott Johnson, sal die hersieningsproses lei.

Johnson is juis ’n jaar gelede aangestel om bykomende ondersteuning aan Cheika te bied. Hy was ook ’n lid van die Wallabies se keurkomitee vir die WB-toernooi.

Volgens Johnson sal meriete swaarder as nasionaliteit weeg wanneer die nuwe afrigter gekies word.

– Reuters