Die Springbokke kon nie op beter nuus as Wayne Barnes se aanstelling vir Sondag se Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Japan in Tokio hoop nie.

Die Bokke verwag geen voorkeurbehandeling van hom teen die gasheerland nie, maar slegs regverdigheid waarvoor hy bekend is.

Die Engelsman was onlangs die blaser in die Bokke se groepsege van 49-3 oor Italië in Sjizoeoka en toon die afgelope tyd goeie vorm.

Dit sal Sondag die 15de Bok-toets wees waarin Barnes betrokke is. Die Bokke was in die laaste agt wedstryde met hom as die blaser aan die wenkant.

Onder hom as skeidsregter het Suid-Afrika elf uit 14 toetse gewen.

Matt Proudfoot, die Bokke se voorspeler-afrigter, het vroeër gesê die rede vir hul goeie rekord onder Barnes, is omdat hy ’n uitstekende kommunikeerder op die veld is.

“Hy neem goeie besluite en sy kommunikasie is suiwer,” sê Proudfoot.

Die 40-jarige Barnes het op 24 Junie 2006 in ’n kragmeting tussen Fidji en Samoa sy toetsbuiging gemaak en tree vanjaar in sy vierde Wêreldbeker op.

’n Yslike eer val intussen die Bloemfonteinse prokureur Jaco Peyper te beurt wanneer hy Sondag in Oita in een van die ander kwarteindstryde tussen Wallis en Frankryk in sy 50ste toets blaas.

Hy sou die mylpaal al in die naweek se kragmeting tussen Engeland en Frankryk in Jokohama bereik, maar die wedstryd is weens tifoon Hagibis afgestel.

Die Wêreldbeker-wedstryd vroeër tussen Japan en Samoa in Toyota was Peyper se 49ste.

Sy aanstelling vir die kwarteindstryd is net nog ’n bewys dat hy as een van die wêreld se vier bestes gereken word.

Sy moontlike aanstelling vir die eindstryd sal nie net van sy vorm afhang nie, maar ook of Suid-Afrika deurdring.

Peyper beleef ’n bestendige jaar en het op 6 Julie in sy derde Super-eindstryd tussen die Crusaders en die Jaguares in Christchurch geblaas.

Volgens die bekende statistikus Frikkie van Rensburg was dit sy 106de Super-wedstryd.

Peyper het reeds vier eindstryde in sy 76 Curriebeker-wedstryde hanteer.

Jérôme Garcès en Nigel Owens is saam met Peyper en Barnes vir die vier kwarteindstryde aangestel.

Die Fransman Garcès het die moeilike taak gekry om Saterdag se toets in Oita tussen Engeland en Australië te hanteer.

Dis uitdagend omdat Eddie Jones en Michael Cheika nie huiwer om hul sê te sê nie en daardeur indirekte druk op skeidsregters plaas.

Wallis se Owens sal in beheer van die vierde kwarteindstryd tussen Nieu-Seeland en Ierland wees. Die toets vind Saterdag in Tokio plaas.