Die All Black-slot Scott Barrett moet homself knyp en dít het niks te make met al die aandag wat sy ouer broer Beauden by die Wêreldbeker-toernooi in Japan kry nie.

Scott, en sy veelsydige broers in die agterlyn, Beauden en Jordie, het in 2017 die eerste drietal-broers geword wat sáám vir Nieu-Seeland speel.

Hulle is ook nou die eerste trio uit dieselfde gesin in ’n Wêreldbeker-groep van die All Blacks.

Scott sê dit is ’n scenario wat destyds talle kere op die grasperk van hulle familieplaas buite Taranaki aan die weskus van Nieu-Seeland se Noordelike Eiland afgespeel het.

Ons het altyd in die agterplaas speel-speel pale toe aangelê vir ’n skop om die Wêreldbeker te wen.
Scott Barrett

“Ek het nooit regtig gedink ons sal hier wees nie,” het Scott Woensdag in Oita gesê, waar die All Blacks vir hulle volgende WB-wedstryd teen Kanada op 2 Oktober voorberei.

“Ons het altyd in die agterplaas speel-speel pale toe aangelê vir ’n skop om die Wêreldbeker te wen.

“Jy het scenario’s soos daardie geskep en dit was alles vir die pret. Ons moet onsself knyp om seker te maak ons is nou saam hier.”

Hoewel min die voorreg kry om vir die All Blacks te speel, was die Barrett-broers nog altyd bestem vir die groot verhoog.

Hul pa, Kevin, ’n Taranaki-staatmaker vir baie jare wat in die vroeë dae van Superrugby vir die Wellington Hurricanes gespeel het, het met sy uittrede grappenderwys gesê hy “gaan huis toe om All Blacks te gaan groot maak”.

Al drie broers het al gesê hulle het hul werketiek by hulle pa gekry en die talent by hul ma, Robyn, wat onder meer ’n kranige atleet en netbalspeler was.

Beauden, ’n tweemalige Wêreldspeler van die Jaar, is die bekendste van die drie.

Beauden is regtig baie netjies en ek is so ’n bietjie slordig en sukkel om alles aan die kant te hou.
Scott Barrett

Hy word sover in Japan oral oorval deur ywerige ondersteuners en Jordie sê dit was aanvanklik ’n verrassende ervaring.

“Ons het gister by die lughawe aangekom en almal het Beauden se naam geskree. Ek en Scott het net vir mekaar gekyk en gewonder wat aangaan.

“Almal in die span weet daar is so ’n bietjie van ’n verwagting rondom hom.”

Daar is nog twee ouer broers. Een van hulle, Kane, het in ’n stadium vir die Blues gespeel, maar harsingskudding het sy loopbaan vroeg kortgeknip.

Hulle het ook drie susters.

Beauden sê hy het nog nie in Japan ’n kamer met een van sy broers gedeel nie en Scott meen dit is dalk ’n goeie ding.

“Beauden is regtig baie netjies en ek is so ’n bietjie slordig en sukkel om alles aan die kant te hou.

“Ek laat gaan dinge so bietjie en is nie te veel gepla nie, maar dié twee (Beauden en Jordie) is baie ordentlik.” – Reuters