Die drie wat Scott Barrett gedruk het om die All Blacks te help om die Bokke in hul openingswedstryd in die Wêreldbekertoernooi te klop, het aan die groot slot ’n nuwe bynaam besorg.

Stuff berig Barrett is Woensdag by die Kiwi’s se mediakonferensie uitgevra oor sy onbeholpe duik oor die doellyn teen die Suid-Afrikaners, ’n poging wat nie naastenby as elegant beskryf kan word nie.

“Ja, ek het baie terugvoering oor daardie duik gekry,” sê hy.

“Ek het ’n nuwe bynaam, “Dogroll”, en ek sou daardie poging seker as ’n honderol beskryf.

“Maar ek het al te veel wedstryde gekyk waar spelers by die doellyn oorgerus raak en ek wou nie daardie oomblik beduiwel nie.”

Barrett se vorige bynaam was “Lloyd”, vernoem na Lloyd Christmas, Jim Carrey se karakter in die 1994-rolprentreffer, Dumb and Dumber.

– Sportredaksie