Die Nieu-Seelandse heelagter Beauden Barrett het sy steun toegesê aan die All Black-hulpafrigter Ian Foster om die leisels as breier van die span oor te neem, omdat dit “kontinuïteit” sal verseker.

Steve Hansen se termyn as afrigter van die All Blacks het verlede week geëindig nadat die Kiwi’s Wallis in die uitspeelwedstryd om die bronsmedalje by die Wêreldbeker-toernooi in Japan geklop het.

Hy was van 2004 tot 2011 ’n hulpafrigter, voordat hy in 2012 as hoofafrigter aangestel is.

Die All Blacks het Dinsdag na Auckland teruggekeer van Japan en Barrett het aan verslaggewers in Nieu-Seeland gesê hy hou daarvan om met Foster, wat sedert 2012 ’n hulpafrigter van die nasionale span is, te werk.

“Hy is ’n baie intelligente afrigter en ’n ware spanman en hopelik kan ons kontinuïteit behou,” sê Barrett.

Scott Robertson, afrigter van die Crusaders, is een van die sterk kandidate om Steve Hansen as All Black-afrigter op te volg. Foto: Getty Images

Scott Robertson, wat die Crusaders die afgelope drie jaar na die Superrugby-titel gebrei het, word ook as ’n sterk aanspraakmaker beskou. Dan word Warren Gatland, wat terugkeer Nieu-Seeland toe nadat hy Wallis van 2007 gebrei het, steeds as ’n kandidaat genoem.

Gatland gaan die Chiefs volgende jaar in die Superrugby-reeks brei en is reeds aangestel as afrigter van die Britse en Ierse Leeus wat in 2021 in Suid-Afrika toer.

Die 56-jarige Gatland se ooreenkoms om die Leeus af te rig, beteken dat hy tot ná 2021 se toer buite rekening gehou word. Dit sal straks meebring dat hy nie vir die All Black-pos oorweeg word nie.

Dan word Jamie Joseph, wat Japan na die kwarteindronde van die Wêreldbeker help voer het, se naam ook genoem. Die 49-jarige Joseph is ’n Nieu-Seelander van geboorte en het toetsrugby vir die All Blacks en die Brave Blossoms gespeel.

Dit sal nie maklik wees om Hansen se skoene te vul nie, aangesien die All Blacks 86% van hul wedstryde met hom in beheer gewen het. Boonop spog hy met die prestasie dat hy vier keer Wêreldrugby se Afrigter van die Jaar gewen het.

“Steve se nalatenskap is baie groot. Sy wenpersentasie spreek vir homself. Ek dink die belangrikste ding met Steve is die manier waarop hy die spelers laat voel,” sê Barrett.

“Ons weet hy ondersteun ons 100%. As ’n speler is dit al waarvoor jy regtig kan vra. Ek het baie by hom geleer en is baie dankbaar daarvoor.”

Barrett sê die All Blacks, wat teen Engeland in die halfeindstryd van die Wêreldbeker verloor het, het Suid-Afrika in die eindstryd ondersteun.

“Dit is lekker om te sien dat ’n span van die Suidelike Halfrond en spelers wat aan ons bekend is en met wie ons mee vriende is, die trofee lig. As dit nie ons kon wees nie, het ons hulle ondersteun om te wen,” sê Barrett.

– Reuters