Die vertroue wat die Springbokke se afrigtingspan in Beast Mtawarira gestel het, is die rede waarom hy sy toetsloopbaan terug op koers kon kry nadat baie kenners ongeveer twee jaar gelede gemeen het dis tyd dat die ou grote sy stewels wegpak.

Die 34-jarige Mtawarira was Saterdag met sy skrumwerk in Suid-Afrika se oorwinning van 32-12 oor Engeland in die Wêreldbeker-eindstryd een van die Bokke se grootste helde in Jokohama.

Hy het vier skrum-strafskoppe teen Dan Cole afgedwing nadat Kyle Sinckler die veld in die derde minuut ná ’n harde stamp teen die kop verlaat het.

“Beast is ’n speler wat gedy as jy selfvertroue in hom stel,” het Matt Proudfoot as die rede aangevoer waarom sy loskopstut weer sy loopbaan terug op koers kon kry.

Ná Sinckler se besering het die Bokke se agttal volgens Proudfoot besluit dat hulle Engeland se skrum aan die vaskopkant kan aanval en uitbuit, wat presies die geval was. In dié afdeling het die Suid-Afrikaners waardevolle momentum gekry.

“Al het Beast al in meer as 100 toetse gespeel (en in sy derde Wêreldbeker), is hy iemand wat baie honger bly,” het Proudfoot, die Bokke se voorspelerafrigter, gesê.

Hy was uitsonderlik goed teen Engeland en wou sy loopbaan op ’n hoogtepunt klaarmaak.

“Hy het my nog Maandag ná die halfeindstryd teen Wallis gevra waar hy sy spel kan verbeter. Ek het aan hom gesê laat ons onsself eerder oor die eindstryd bekommer, ons kan later oor sy vertoning teen Wallis praat.

“Hy was uitsonderlik goed teen Engeland en wou sy loopbaan op ’n hoogtepunt klaarmaak. Ek het gedink hy was vanaand (Saterdagaand) uitstekend.”

Die Bokke het ongelooflike selfgeloof in hul skrumwerk en heg volgens Proudfoot, wat self ‘n voormalige toetsstut vir Skotland was, baie trots aan hul skrumwerk.

Die nederige Mtawarira wat na verwagting sy uittrede uit internasionale rugby in die nabye toekoms sal aankondig, was agterna nederig oor sy yslike skrumvertoning wat die Bokke op die voorvoet in die halfeindstryd geplaas het.

“Dit regtig opwindend om die wêreldkampioen te wees,” het hy gesê.

Ek het oor my toekoms gedink en sal oor die volgende paar dae ’n aankondiging maak. Hou dié ruimte dop.

“Dis spesiaal om deel van die groep te wees. Ons het harde lesse langs die pad geleer wat eindelik vrugte afgewerp het.

“Ek het oor my toekoms gedink en sal oor die volgende paar dae ’n aankondiging maak. Hou dié ruimte dop.

“Ons as die Bok-agttal heg baie waarde aan ons vaste fasette. Dinge het nog die hele toernooi vir ons voorlangs uitgewerk.

“Dit was lekker om daardie strafskoppe in die eerste helfte met ons skrumwerk af te dwing.

“Al ons harde werk was die moeite werd. Al die voorspelers het hul kant gebring.”