Die losskakel Dan Biggar en die senter Jonathan Davies, twee van Wallis se sleutelspelers, is terug op die oefenveld en behoort beskikbaar te wees vir Sondag se Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Frankryk.

Albei het Sondag se laaste groepwedstryd teen Uruguay misgeloop.

Davies het teen Fidji ’n kniebesering opgedoen. Biggar het in dieselfde wedstryd sy tweede kopbesering van die toernooi opgedoen toe hy in ’n botsing met sy spanmaat Liam Williams was.

“Dan is slaggereed; hy oefen vandag saam met ons. Dit is goeie nuus,” sê Stephen Jones, ’n hulpafrigter van die Drake.

Hy sê Davies was ook op die oefenveld.

“Ek is net bly hy (Davies) is fiks en gesond. Albei spelers het hope ervaring en vaardighede.

“Davies hou ’n fisieke bedreiging vir sy teenstanders in. Kyk net na die gaping wat hy geslaan het voordat hy beseer is.

“Dit is belangrik dat almal fiks en gesond is. Ons mediese span doen fantastiese werk.”

Jonathan Davies hardloop op die oefenveld. Foto: Getty Images

Jones het as aanvalsafrigter oorgeneem nadat Rob Howley aan die vooraand van die toernooi huis toe gestuur is hangende ’n ondersoek na weddenskappe wat hy glo op wedstryde geplaas het.

Wallis het sewe van sy agt wedstryde teen die Franse gewen sedert hy in 2011 se WB-halfeindronde teen hulle vasgeval het.

“Daar is ’n gesonde mededinging (tussen dié spanne) en ons respekteer hulle.

“Hul spelers is onvoorspelbaar en gedy in gebroke spel. As ons spel gaan lostorring en ons maklik omgekeerde besit afstaan, sal hulle baie gevaarlik wees.

“Hulle het taai wedstryde teen Argentinië en Tonga gehad, maar kon bo uitkom.

“Ons fokus is op onsself; dit is so eenvoudig,” sê Stephen.

Jaco Peyper van Suid-Afrika sal die skeidsregter wees in dié stryd. 

– Reuters