Jesse Kriel sal weens 'n beenbesering Saterdag se Wêreldbekertoets teen Namibië in Toyota misloop. 

Hy en Frans Steyn was veronderstel om die senterpaar te wees. 

"Hy is die enigste een wat nie beskikbaar is nie," sê Rassie Erasmus.

"Ek glo hy sal weer volgende week beskikbaar wees. Hy het eintlik net 'n ligte stamp teen sy dyspier gekry. "

Kriel (25) se besering is nie ernstig genoeg om die die einde van sy Wêreldbekertoernooi te beteken nie. Rassie Erasmus moes Woensdag noodgedwonge vir Lukhanyo Am langs Steyn in die middelveld kies. 

Am en Makazole Mapimpi is die enigste twee spelers wat in Jokohama die toets teen die All Blacks begin het en weer in Toyota met die afskop op die speelveld sal wees. 

Almal in die Bokke se Wêreldbeker-groep van 31 spelers wat nog nie kans in die toernooi gekry het nie - Warrick Gelant, S'bu Nkosi, Steyn, Elton Jantjies, Schalk Brits, Kwagga Smith, Lood de Jager, Vincent Koch, Thomas du Toit en Cobus Reinach - speel  teen Namibië. 

Erasmus het 'n interessante plaasvervangersbank gekies met Siya Kolisi een van ses eerstekeuse-spelers daarop. Steven Kitshoff, Eben Etzebeth, Franco Mostert, Damian de Allende en Cheslin Kolbe is die ander. 

Kolisi se insluiting gee aan die Bokke die kans om aan hom 'n verdere geleentheid te bied om sy wedstrydskerpheid ná sy besering te herwin. Hy het net 50 minute teen die All Blacks gespeel en sal die verdere speelkans teen Namibië verwelkom. 

Matt Proudfoot, voorspelerafrigter van die Bokke, het vroeër die week gesê dit was die plan dat Kolisi nie die volle wedstryd teen Nieu-Seeland speel nie. 

Groot belangstelling heers hoe die Bokke se lostrio met Schalk Brits, kaptein, as deel daarvan in Toyota sal vaar. Met Brits op agtsteman het Erasmus besluit om nie 'n plaasvervanger-haker te kies nie. Die Bok-afrigter het in 'n ongewone stap eerder twee slotte, Etzebeth en Mostert, as plaasvervangers betrek. 

Erasmus het voor die aanvang van die Wêreldbeker gesê dat hy Mostert selfs op seweflank in die wedstryde teen Namibië en Kanada kan opstuur. Mostert het al flank vir die Leeus en Gloucester gespeel. 

Bok-span: Warrick Gelant (7 toetse), S'bu Nkosi (8), Lukhanyo Am (10), Frans Steyn (61), Makazole Mapimpi (9), Elton Jantjies (35), Herschel Jantjies (5), Schalk Brits (k, 13), Kwagga Smith (4), Francois Louw (70), Lood de Jager (40), RG Snyman (17), Vincent Koch (15),  Bongi Mbonambi (31), Tendai Mtawarira (112). PLAASVERVANGERS: Steven Kitshoff (41), Thomas du Toit (10), Eben Etzebeth (80), Siya Kolisi (44), Franco Mostert (33), Cobus Reinach (12), Damian de Allende (41), Cheslin Kolbe (11).