Hoewel Springbok-ondersteuners dit so gou moontlik sal wil vergeet, was Saterdag se Wêreldbeker-groepwedstryd tussen Suid-Afrika en die All Blacks in Jokohama vir die klein towenaar Cheslin Kolbe ’n onvergeetlike dag.

“My eerste Wêreldbeker-wedstryd is ’n herinnering wat ek deur my loopbaan sal saamneem,” het die 25-jarige Bok-regtervleuel gesê.

“Dit is nie die uitslag wat ons wou hê nie, maar dit is steeds ’n lang kompetisie.

“Ons sal ons koppe hoog hou en aanhou werk vir die volgende wedstryd en sorg dat ons nie ons koppe laat sak nie.”

Kolbe se spel in die nederlaag van 13-23 was een van die min ligpunte in die Bok-vertoning.

Dié boorling van Kraaifontein, wat deesdae vir Toulouse in Frankryk speel, was die Bokke se gevaarlikste aanvaller en het vreesloos etlike hangskoppe bemeester.

Cheslin Kolbe was die enigste Springbok wat rotsvas onder die hoë bal was teen die All Blacks.Foto: AP

As aanvaller het hy ’n allemintige 118 meter se veld gewen, byna dubbel soveel as die All Blacks Anton Lienert-Brown se 63 m, wat die tweede meeste in die toets was.

Kolbe wou agterna, toe hy die media te woord moes staan, nie veel oor sy eie vertoning sê nie.

“Dit gaan nie oor my individuele spel nie. Ons is ’n span. Ek moet net verseker as ek die bal kry om soveel momentum moontlik vir die span te gee.

“Ons het nie ons kanse gebruik nie en hulle het. Dis nog baie vroeg in die toernooi. Hulle op belangrike tye omgekeerde balbesit gewen.

“Hulle het ’n baie goeie skopwedstryd gespeel. Die Wêreldbeker gaan nie oor aanvalle nie. Daar was ’n paar balle wat ons net nie in die lug kon hanteer nie.”

Die All Blacks het Bokke behoorlik vir hul bottervingers laat boet en twee blitsdrieë in die eerste helfte het Suid-Afrika in ’n posisie geplaas waarvan hy nooit kon herstel nie.

Kolbe het Bok-ondersteuners groot laat skrik toe hy aan die einde van die toets die speelveld verlaat het.

“Ek het met krampe gesukkel. Dis niks om oor bekommerd te raak nie. Ek sal reg wees.”

Die Bokke het Sondag uit Tokio na die stad Toyota gereis, waar Namibië hul volgende teenstander in ’n Groep B-wedstryd Saterdag is.