Willie le Roux sê hy is nie ’n Ferrari nie, hy is ’n bakkie.

Dié Springbok-heelagter is Dinsdag op ’n nuuskonferensie gevra of die Suid-Afrikaanse agterlyn ook Ferrari’s het, soos Japan se afrigter, Jamie Joseph, na sy haastige vleuels, Kotaro Matsushima en Kenki Fukuoka, verwys.

“Ons het beslis ook ’n paar Ferrari’s in ons agterlyn, maar ek is nie een van hulle nie. Ek is meer van ’n bakkie-mens,” het hy gesê.

“Ons het ook vinnige en vaardige agterspelers. As ek die naweek speel, sal ek my bes doen om hulle in ruimte te plaas.”

Nou tel die vorige twee wedstryde tussen ons niks nie. Dis Sondag s’n wat nou tel.

Rassie Erasmus kondig sy Bok-span Donderdag vir Sondag se Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Japan in Tokio aan.

Met Cheslin Kolbe wat Dinsdag sonder enige ongerief ná sy enkelbesering geoefen het, behoort hy, Makazole Mapimpi en Le Roux die agterste driehoek teen Japan te vorm.

“Ons is almal opgewonde oor die wedstryd. Dit gaan Sondag gaan oor wie die druk die beste kan hanteer.

“Nou tel die vorige twee wedstryde tussen ons niks nie. Dis Sondag s’n wat nou tel.”

Japan se “Ferrari’s” Kotaro Matsushima (voor) en Kenki Fukuoka (agter) het saam al nege drieë in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi gedruk. Foto: Getty Images

Die toets is nie net belangrik vir die Bokke se verdere aanspraak in die toernooi nie, maar ook vir Le Roux, wat weer ’n slag Erasmus se vertroue in hom met ’n goeie vertoning moet regverdig.

Dis so dat hy geleenthede vir sy mede-agterspelers met sy goeie aangeewerk skep en op so ’n wyse al verskeie drieë bewerkstellig het, maar die beste is nog nie van hom en die skrumskakel Faf de Klerk in die toernooi gesien nie.

Hy sal sy spel onder meer onder die lugskoppe en met sy verdediging moet opskerp.

Met Damian Willemse wat nog nie soveel rugby ná sy kniebesering gespeel het nie en Warrick Gelant wat ook nie heeltemal in sy toetse op heelagter oortuig het nie, sal Le Roux weer Sondag kans kry om die vertroue van die Bok-ondersteuners terug te wen.

Op sy beste is hy ’n wedstrydwenner soos min, maar hy moet weer vir ’n slag wys waarom hy al in 58 toetse gespeel het.

Sondag is die regte verhoog vir hom om dít te doen.

Hulle het Ferrari’s op die punte. Ons sal wakker teen hulle vleuels moet wees.

Hy het geen verskoning om nie in Japanse toestande te presteer nie.

Hy het die Japanse klubspan die Canon-Eagles van 2015 tot 2017 verteenwoordig. Ná vanjaar se Wêreldbeker-toernooi sal hy hom ook by die Japanse klubspan Toyota Verblitz aansluit.

“Ek geniet Japanse klubrugby baie. Ek het ná 2015 se Wêreldbeker die eerste keer hier in die Topliga gespeel.

“As die mense my in Suid-Afrika vra hoe die klubrugby hier is, verduidelik ek altyd dis soos sewesrugby binne die vyftienmankode.

“Dis baie vinnig. Jy hardloop van oral af. Daar is nie altyd baie struktuur in die Topliga nie. Jy speel wat jy voor jou sien.”

Le Roux-hulle het nietemin kennis geneem van Joseph se Ferrari’s.

“Hulle het Ferrari’s op die punte. Ons sal wakker teen hulle vleuels moet wees.”

Die Bokke het rede om bekommerd oor Matsushima en Fukuoka te wees. Saam het hulle nege drieë in die groepfase opgestapel, waarvan Matsushima vyf en Fukuoka vier gedruk het.