Rassie Erasmus moet ongelooflik baie krediet vir die verowering van die Wêreldbeker kry, sê die voormalige afrigter van die Southern Kings, Deon Davids.

Deon  Davids
Deon Davids

“Hy het geglo in die plan wat hy gehad het om die Wêreldbeker te wen en op die ou end het hy dit reggekry,” sê Davids, wat ook tydens die WB-toernooi deur SuperSport as ’n ontleder op die program Masterclass ingespan is.

“Hulle het gehou by die plan, maar ook hard gewerk en individuele spelers gekry om deur die loop van die toernooi te verbeter.

“Daar was bestendigheid in sy spankeuses, wat tot selfvertroue by die spelers lei. Die spelers het geweet wat van hulle verwag word en hulle het dit uitstekend uitgevoer.”

Davids sê die vertoning waarmee die Bokke vorendag gekom het om Engeland met 32-12 in gister se eindstryd te klop, was eenvoudig fantasties.

“Die voorspelers het die grondslag vir die oorwinning gelê. Die skrums het absoluut oorheers; dit was uitstekend.

“Dan was die verdediging boonop puik en die kanse wat geskep is, is benut.

“Die bal is by snellers soos Makazole Mapimpi en Cheslin Kolbe uitgekry en hulle het hulle skitterend van hul taak gekwyt.