Makazole Mapimpi hou die Webb Ellis-trofee in Oos-Londen omhoog. Langs hom staan Siya Kolisi, Springbokkaptein.Foto: Linkie Bessinger

In die week ná die Springbokke se oorwinning teen die Engelse in die Wêreldbeker-rugbytoernooi het die wenresep vir nasiebou aan ons almal bekend geword.

Die lekker ding van dié wenresep is dat elke Suid-Afrikaner hul eie spesiale bestanddeel in die pot van oorwinning kan voeg.

Saam sing ons Shosholoza en skree “cheers” op Suid-Afrika en die Bokke!

Die mense van die Oos-Kaap skryf egter aan hul eie resepteboek. Dié provinsie het vanjaar tien verteenwoordigers na die tafel gebring wat deel gevorm het van die Bokspan en hul bestuursgroep.

Die Oos-Kapenaars sluit in groot name soos Rassie Erasmus, afrigter, Mzwandile Stick, hulpafrigter, Siya Kolisi, kaptein, Makazole Mapimpi, vleuel, Lukhanyo Am, senter, Frans Steyn, veelsydige tweemalige wêreldkampioen, Elton Jantjies, losskakel, Charles Wessels, bedryfshoof, Lindsay Weyer, tegniese ontleder en Konrad von Hagen, spandokter.

Ondersteuners hou foto’s van hul gunsteling-Springbokke op. Foto: Linkie Bessinger

Mapimpi se kaalvoet-begin

In 2009 skop Makazole Mapimpi se rugbyloopbaan amptelik af toe hy kaalvoet vir die Strong Vultures, ’n liga-span van die Tsolomnqa-gemeenskap, uitdraf nadat hul linkervleuel nie vir die wedstryd opgedaag het nie.

“Daardie dag het ek al geweet daar is iets spesiaal aan hom. Hy het so goed gespeel, al is hy onverwags opgeroep. Hy het nie eens skoene gehad om in te speel nie,” sê Zola Msebenze Maqashu, een van die twee broers wat die span afgerig en bestuur het.

“Hy was altyd gereed om te speel. Hy het nooit vrae gevra nie, hy het net begin speel.”

Die strate van Oos-Londen was Saterdag vol Springbok-ondersteuners. Foto: Linkie Bessinger

In die wedstryde daarna het sy talent as vleuel van krag tot krag gegaan.

Die twee broers, Zola en Mpumelelo Zet Maqashu, het op daardie dag hul vertroue en geloof in die jong, tokslose speler geplaas. In die daaropvolgende jare het hulle hom dag in en dag uit in ’n ou blou bakkie van Tsolomnqa na Oos-Londen aangery sodat hy by die proewe en oefeninge van die Border Bulldogs kon uitkom.

“Ons was daardie tyd werkloos en het geen finansiële vergoeding ontvang vir die werk wat ons gedoen het nie.

Maar ons het in Maks (soos hulle hom noem) geglo en wou hom help om sy drome te bewaarheid,” sê die Maqashu-broers.

Monde Pala Tyokolo, hoof van Tsolomnqa se rugbyunie in die tyd toe Mapimpi daar gespeel het, sê omstandighede in die gemeenskap is nie na wens nie.

“Ons het nie gerieflike velde om op te speel nie. Die meeste van die mense hier soek werk of doen los werkies in Oos-Londen om ’n inkomste te verdien. Hulle is nooit hier om te oefen nie en dis vir hulle dikwels selfs moeilik om by wedstryde uit te kom.”

Hy sê hulle kan nie meeding met die vergunnings en geleenthede wat talentsoekers vir rugbyspelers bied wanneer hulle raakgesien word nie.

“Dit maak ons as ’n gemeenskap so trots as ons sien hoe een van ons eie so ’n reusesukses van sy drome maak.”

Uitbundige Springbok-aanhangers Saterdag in die strate van Oos-Londen. Foto: Linkie Bessinger

Storie van hoop vir almal

Groot was hul verbasing en opgewondenheid toe een van hul eie vanjaar as een van die Springbokke se kernspelers aangewys is.

“Dit is vir ons ’n reuseoorwinning wanneer ’n speler uit ons gemeenskap vir Grens gaan speel,” sê Zola, terwyl ’n trotse glimlag oor sy gesig vorm. “Maar vir die Bokke? Dis ongelooflik!”

“Ons sou niks minder vir Maks kon droom nie,” sê Mpumelelo.

“Mapimpi se storie is ’n storie van hoop,” sê Michael McLoughlin, eienaar van die Active Attitude-gimnasium in Oos-Londen. Hy was die Border Bulldogs se afrigter vir geestelike vaardighede toe Mapimpi daar begin speel het.

“Dis nie net ’n inspirerende storie vir mense wat nie ideale omstandighede en geleenthede het nie. Bevoorregte mense moet ook besef dat as iemand met soveel minder as wat hulle het, hul drome kan bewaarheid, behoort niks in jou pad te staan as jy reeds bronne en geleenthede tot jou beskikking het nie.”

Mapimi se talent en verhaal gee ’n oorweldigende lekker geur aan die oorwinningsbredie. Dit is ’n smaak wat nog lank op almal se lippe sal agterbly. Die Springbokke van 2019 se verhale vertel soveel meer as net dié van ’n oorwinning. Dit is een van oorwinning, hoop en ’n nasie wat saamstaan.

“Ons glo dat daar hoop in die harte van jong belowende kaalvoet-rugbyspelers gekweek word as hulle Makazole se storie hoor,” sê Zola.

“Ons het ook nog ons blou bakkie en ons is reg om nog baie ritte Oos-Londen toe te maak.”