Dit sal vir Beast Mtawarira ekstra spesiaal wees as die Springbokke die Wêreldbeker met Siya Kolisi as kaptein wen.

Die 28-jarige Kolisi speel in Saterdag se eindstryd teen Engeland in sy 50ste toets nadat hy op 15 Junie 2013 op 21-jarige ouderdom sy toetsbuiging as ’n plaasvervanger teen Skotland in Nelspruit gemaak het.

“Siya is ’n inspirerende leier,” sê Mtawarira.

“Die wyse waarop Suid-Afrika agter hom staan, beteken baie om die land te verenig.

“Hy is voorbeeldig, so dit sal wonderlik wees om hierdie Wêreldbeker saam met hom as kaptein te wen.”

Kolisi sal die Bokke Saterdag ’n 20ste keer op die veld lei. Sover het hy ’n wensyfer van 63%, wat 12 oorwinnings in 19 toetse insluit.

Hennie Muller was met 88% in nege toetse die suksesvolste Bok-kaptein nóg.

Onder die Bok-kapteins wat soos Kolisi Suid-Afrika in 19 en meer toetse gelei het, het Victor Matfield met 73% (17 oorwinnings uit 23 toetse) die beste gevaar, gevolg deur Gary Teichmann (72%, 26 uit 35), John Smit (65%, 54 uit 83), Francois Pienaar (65%, 19 uit 29) en Jean de Villiers (64%, 24 uit 37).

Die ondersteuning wat Mtawarira-hulle uit Suid-Afrika ontvang, is volgens die 34-jarige loskopstut inspirerend.

“Om deel van ’n Wêreldbeker-eindstryd te wees is ’n droom vir my. Dis ’n droom wat waar geword het.

“Ek voel ek het hard in my loopbaan gewerk om hier te kom. Ek wil dit graag laat tel.

“Ons wil ons land op die beste moontlike wyse verteenwoordig.”

Kolisi vind dit moeilik om presies in woorde te beskryf hoe trots hy is om die Bokke te lei.

“Toe die Bokke die Wêreldbeker in 2007 gewen het, was ek ’n kind wat die eindstryd in ’n taverne gekyk het omdat ons nie ’n televisie by die huis gehad het nie,” het Kolisi, wat in Port Elizabeth gebore is, gesê.

“Ek weet wat daardie oorwinning destyds vir ons land beteken het. Ek het nog nooit gesien hoe sport mense verenig soos toe nie.”

Die Bokke sal in die eindstryd op die ondersteuning van pres. Cyril Ramaphosa staatmaak wat in Jokohama teenwoordig sal wees.

Ramaphosa het voor die halfeindstryd teen Wallis vir Kolisi sy persoonlike beste wense in ’n video-gesprek oorgedra.