Cheslin Kolbe is weens ’n enkelbesering uit Sondag se Wêreldbeker-halfeindstryd teen Wallis in Jokohama.

S’bu Nkosi vervang hom in die enigste verandering aan die Springbokke se 23-tal wat Japan 26-3 in die kwarteindstryd in die Tokio-stadion geklop het.

Saam met die slegte nuus oor Kolbe se onttrekking, was daar darem ook ’n tikkie goeie nuus oor die Bokke se 25-jarige towenaar.

Sy besering beteken nie die einde van sy toernooi nie. Die hoop bestaan dat hy gereed vir ’n moontlike eindstryd of die uitspeelstryd om die derde plek sal wees.

Kolbe se onttrekking is nietemin ’n gevoelige slag aangesien Wallis met spelers soos die skrumskakel Gareth Davies, die veelsydige agterspeler Liam Williams en die losskakel Dan Biggar ’n goeie skopplan het, puik onder die hoë balle is en vir veldgebied speel.

Kolbe was in die groepwedstryde teen die All Blacks en Italië die Bokke se voorste lugspeler. ’n Groot vuurdoop wag dus vir Nkosi, wat ’n opwindende aanvaller is, onder die hangskoppe in Jokohama.

Nog ’n afdeling van Nkosi se spel wat getoets sal word, is hoe hy terugval op die verdediging as Wallis daarin slaag om die Bokke se verdedigingslyn te sny.

Nkosi sal wel op die aanval met sy krag, systappe en vaart ’n handvol vir Wallis wees.

Weens Kolbe se besering was dit onwaarskynlik dat die Bokke enige verdere veranderinge aan hul agterste driehoek sou oorweeg.

Die Bokke het ook besluit om met ’n bank van ses voorspelers en twee agterspelers te volhard waarmee hulle suksesvol teen Italië en Japan was.

Wallis se wedstrydplan is baie dieselfde as die Bokke s’n, met die Suid-Afrikaners wat sal hoop die twee stelle vaste voorspelers in hul 23-tal kan eindelik die verskil in die vaste fasette beteken.

Wallis verkies ook om die balbesit aan die teenstander te gee, hom met goeie verdediging in sy halfgebied te probeer vaspen en om dan enige foute uit te buit.

In Shaun Edwards het hulle ’n knap verdedigingsafrigter wat die week planne teen die Bokke se opskietstelsel sal maak.

Gaan Willie le Roux Wallis se uitstekende taktiese skopwerk kan bemeester? Foto: Getty Images

“Ons weet Wallis se skopwerk is goed,” sê Mzwandile Stick, hulpafrigter van die Bokke.

“Gareth kry goeie afstand met sy skoppe, terwyl Liam en Dan baie ervaring het.

“Ons weet hoe belangrik gebiedsvoordeel vir Wallis is. Hulle versmoor altyd spanne waar hulle nie toelaat dat die opposisie in hul helfte kom nie.

“Dit sal dus ’n groot deel van hul spel wees. Ek dink nie dat hulle binne ’n week sal probeer om daarvan weg te beweeg nie.

“Ons sal die kanse wat ons in hul kwartgebied kry in punte moet omskep.

“Ons verwag dat Wallis aan ons balbesit met hulle massiewe skoppe sal gee en ons wil dwing om vanuit ons eie halfgebied te speel.

“Ons sal ’n wyse moet vind om in hul halfgebied te kom.”

Faf de Klerk, wat een van die Bokke se voorste verdedigers in die kwarteindstryd teen Japan was, sal sy storie moet ken as hy Davies in toom wil hou.

“Hy druk ’n paar onderskepdrieë,” sê De Klerk.

“Hy streef daarna om teenstanders se aanvalle tussen die skrumskakel en die voorspelers of tussen die skrumskakel en losskakel te ontwrig.

“Hy probeer dit ontwrig en om die bal daar te onderskep. Ons is bewus daarvan en weet hy doen dit baie goed.

“Hy het groot vaart van die merk af. Ons sal wakker moet slaap wat dit betref.”

* Bok-span: Willie le Roux (59 toetse), S’bu Nkosi (10), Lukhanyo Am (13), Damian de Allende (45), Makazole Mapimpi (12), Handré Pollard (46), Faf de Klerk (28), Duane Vermeulen (52), Pieter-Steph du Toit (53), Siya Kolisi (48, k), Lood de Jager (43), Eben Etzebeth (83), Frans Malherbe (36), Bongi Mbonambi (34), Tendai Mtawarira (115). PLAASVERVANGERS: Malcolm Marx (31), Steven Kitshoff (45), Vincent Koch (19), RG Snyman (21), Franco Mostert (37), Francois Louw (74), Herschel Jantjies (9), Frans Steyn (65).