Kommunikasie sal volgens Herschel Jantjies Sondag een van die Springbokke, wat dieselfde 23-tal wat teen Italië gespeel het vir die Wêreldbeker-kwarteindstryd behou het, se grootste uitdagings teen Japan wees.

Die Japanse skare is fanaties, passievol, geniet hul interaksie soos nêrens elders wêreldwyd met die spanne en is buitengewoon hard.

Vra gerus die Bokke se Klas van 2015 oor die geraas in daardie toets in Brighton.

Japan sal soos op daardie geskiedkundige dag, en met hul roemryke sege Sondag oor Skotland in Jokohama, weer die grootste ondersteuning geniet uit die ongeveer 49 970 toeskouers wat Sondag in die Tokio-stadion verwag word.

“Dit (die verwagte geraas) is ’n moeilike een,” sê Jantjies.

“Ek dink nie jy kan ooit daarop voorberei nie, want dit gaan propvol wees.

“Dit sal vir ons belangrik wees om in die oomblik te bly en nie dat dit by enigeen van ons uitkom nie.

“Die moeilike ding sal wees om op die veld te kommunikeer, maar ek is seker dat ons iets sal vind om dit reg te stel.

“Japan hou van ’n vinnige speltempo. Dit is belangrik dat ons koelkop bly en vasklou aan wat ons die beste doen.

“Hopelik kan ons hul tempo tot niet maak en dit kan ’n goeie dag vir ons wees.”

Lood de Jager dra Sondag die nr. 5-trui. Foto: Getty Images

Rassie Erasmus, Springbok-afrigter, het vasgeklou aan die resep waarmee hy glo Suid-Afrika sukses in die toernooi sal behaal.

Erasmus, onder wie die Bokke na hul tradisionele sterkpunte teruggekeer het sedert hy verlede jaar oorgeneem het, het Donderdag soos verwag is ses voorspelers op die bank gekies.

Dís ’n aanduiding hoeveel die Bokke op fisiekheid, skrums, lynstane en dryfmaalbewegings teen die opwindendste aanvallende span sover in die Wêreldbeker, Japan, gaan steun.

Die Bokke se ervaring lê onder hul voorspelers. Saam het die agttal in 456 toetse, teenoor sy agterlyn se 209, gespeel.

Die Bokke se bank bied ’n verdere 293 toetse se ervaring.

Die gemiddelde toetse per voorspeler is 57, die agterspelers s’n 30 en impakspelers 37.

Die gemiddelde ouderdom van die Bokke se beginspan-spelers is 28 jaar.

* Twee Bokke, Handré Pollard en Duane Vermeulen, kan mylpale teen Japan bereik.

Pollard benodig twee drieë om Morné Steyn se agt as ’n Bok-losskakel te ewenaar.

Vermeulen sal in sy 50ste toets as Bok-agtsteman speel.

Bok-span: Willie le Roux (58 toetse, 60 punte - 12 drieë), Cheslin Kolbe (12, 35 - 7), Lukhanyo Am (12, 15 - 3), Damian de Allende (44, 25 - 5), Makazole Mapimpi (11, 55 - 11), Handré Pollard (45, 410 - 6 drieë, 70 doelskoppe, 76 strafdoele, 4 skepdoele), Faf de Klerk (27, 15 - 3), Duane Vermeulen (51, 15 - 3), Pieter-Steph du Toit (52, 25 - 5), Siya Kolisi (47, 30 - 6), Lood de Jager (42, 25 - 5), Eben Etzebeth (82, 15 - 3), Frans Malherbe (35, 5 - 1), Bongi Mbonambi (33, 35 - 7), Beast Mtawarira (114, 10 - 2). PLAASVERVANGERS: Malcolm Marx (30, 25 - 5), Steven Kitshoff (44, 5 - 1), Vincent Koch (18, 0), RG Snyman (20, 5 - 1), Franco Mostert (36, 5 - 1), Francois Louw (73, 50 - 10), Herschel Jantjies (8, 20 - 4), Frans Steyn (64, 141 - 11 drieë, 7 doelskoppe, 21 strafdoele, 3 skepdoele).