Toe laat sak die Springbokke die 10-ton-trok se handbriek eers in die 66ste minuut met ’n drie deur Faf de Klerk, wat ná een van die Suid-Afrikaners se beste dryfmaalbewegings van die Wêreldbeker-toernooi gevolg het.

Tot voor dít was die Bokke sonder twyfel met hul vrot afronding Japan se Speler van die Wedstryd.

Weens die sowat 25 punte wat die Bokke voor De Klerk se drie letterlik weggesmyt het, was Japan tot in die 66ste minuut in die prentjie voordat die 10-ton-trok momentum opgetel het om met 26-3 oor die gasheer se Ferrari tot in ’n plek in die halfeindstryd te jaag.

Die eerste van die Bok-flaters was in die 34ste minuut, toe Lukhanyo Am te lank aan die bal vasgeklou het met Makazole Mapimpi langs hom en ’n oop doellyn wat wink.

Am moes die bal vinniger uitgegee het aangesien dit sewe punte op ’n skinkbord vir die Bokke was. Maar aangesien hy te lank vasgehou en met een hand in kontak wou uitgee, het hy die bal op Mapimpi se voete gegooi en kon die vleuel dit nie bemeester nie.

Kort daarna is die Bokke, nadat hulle ’n lynstaanbal van Japan naby aan die tuisspan se doellyn afgeneem het, enkele meters van die gasheerland se doellyn vir obstruksie gestraf.

Steeds was dit nie die einde van die Bok-flaters nie.

In die 39ste minuut het die heelagter Willie le Roux aangeslaan met een teenstander voor hom, Mapimpi langs hom en weer eens met ’n oop doellyn wat wink. Mapimpi was terloops vuurwarm.

Le Roux het ’n aand gehad wat hy liefs sal wil vergeet.

In sowat die 47ste minuut was sy gebruiklike sterkpunt, sy aangeewerk, ’n swakpunt toe sy aangee na die flank Pieter-Steph du Toit vorentoe was, wat in die hoekie oorgeduik het vir ’n drie wat nie toegeken is nie.

Die Bok-losskakel, Handré Pollard, wat ’n goeie aand op die aanval beleef het, het ook in die tydperk toe die 10-ton-trok opdraande gery het, met ’n strafdoel en ’n doelskop verbrou.

Nog iets wat die Bokke in die eerste helfte onder druk geplaas het, was Beast Mtawarira se boorvat in die tiende minuut op Kazuki Himeno.

Mtawarira het dadelik besef dit was ’n fout en was gelukkig dat die skeidsregter Wayne Barnes hom nie met ’n rooikaart gestraf het nie.

Gepraat van Barnes.

Handré Pollard mik pale toe in die WB-kwarteindstryd teen Japan. Hy sal nog aan sy skopwerk moet skaaf voor die halfeindstryd teen Wallis volgende naweek. Foto: Getty Images

Hy het waarskynlik in die eerste helfte verkeerde kontaklense in gehad, want ’n mens het nie geweet of die Bokke teen Japan of die Dallas Cowboys speel nie aangesien die tuisspan verskeie kere met vorentoe aangeewerk weggekom het.

Japan se taktiek, wat onwettig van die kantlyn gelyk het, het ook ongestraf gebly, wat Cheslin Kolbe verhinder het om vir die Suid-Afrikaners se hoë skoppe mee te ding.

Moet geen fout maak nie, Japan beklee nie sonder rede die sesde plek op die wêreldranglys nie. Sy oorwinnings oor Skotland en Ierland in die groepfases was geen vloekskoot nie.

Hy het wêreldwyd aanhangers met sy aanskoulike aanvallende en ondernemende hardlooprugby gewen.

Parkeer ’n mens die Bokke se flaters eenkant, was De Klerk en Damian de Allende se duikwerk en die impak wat die plaasvervangers gemaak het, soos vooraf verwag is, van die ligpunte met die oog op hul halfeindstryd teen Wallis.

De Klerk frustreer ondersteuners meestal met sy hoë skoppe, maar hy het vandag as verdediger hand opgesteek toe dit swaar gegaan het en Japan die Suid-Afrikaners onder druk gehad het.

De Allende se goeie peil in die Wêreldbeker het vandag voortgeduur. Hy het verskeie belangrike duikslae ingekry toe Japan die een aanval ná die ander geloods het.

Tendai Mtawarira word met ’n geelkaart van die veld af gestuur deur die skeidsregter Wayne Barnes ná ’n gevaarlike duikslag.Foto: Getty Images

Ook as baldraer het hy momentum gegee toe Japan se verdediging min krake getoon het. Barnes het waarskynlik die regte besluit gemaak deur nie dié senter se drie toe te ken toe hy ná ’n duikslag of twee oor die doellyn gekruip het nie. Barnes het gemeen hy is deur die verdediger vasgehou, maar dit was ’n verdere sewe punte wat verbrou is.

Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, het vooraf verwag dat sy ses voorspelers op die bank die deurslag moet gee, wat presies die geval was. Malcolm Marx en Steven Kitshoff is twee van hulle wat in die laaste paar minute ingeklim het nadat Lood de Jager- en Frans Malherbe-hulle die sagmaakwerk gedoen het.

Dis egter nie net De Jager-hulle wat krediet vir daardie dryfmaalbeweging verdien wat tot De Klerk se drie gelei het nie, Matt Proudfoot moet ook vermeld word.

Sy voorspelers het ook nog nie in die toernooi ’n lynstaanbal afgestaan nie.

Nog ’n positiewe faktor in die oorwinning was dat die Bokke se verdediging met al die balbesit wat Japan gehad het net drie punte gelek het.

Ja, dit was vir groot tye onaanskoulik, maar dit is uitkloprugby en ’n kwarteindstryd.

Harde werk wag, maar Japan verdien krediet. Hy is honderd persent beter as in 2015 se Wêreldbeker-toernooi.

Dankie tog dat die Spook van Brighton nou eindelik begrawe is en dit voor ongeveer 48 000 fanatiese toeskouers wat Japan ’n langer asem gegee het.

* Puntemakers: Springbokke 26 (5): Drieë: Makazole Mapimpi, Faf de Klerk, Makazole Mapimpi. Doelskoppe: Handré Pollard. Strafdoele: Pollard (3).

Japan 3 (3): Strafdoel: Yu Tamura.