Suid-Afrika se Wêreldbeker-helde sal welverdiend met vet beursies huiswaarts keer nadat hulle Engeland met 32-12 in Saterdag se eindstryd in Jokohama afgestof het.

Elkeen van die 31 Springbokke in die groep sal minstens ’n koel R1 292 250 ná die groepwedstryde verdien nadat Siya Kolisi die William Webb Ellis-beker omhoog gehou het.

Dít sluit nie wedstrydgelde en wenbonusse vir die groepwedstryde in nie.

Dis onseker of Jesse Kriel en Trevor Nyakane, wat weens beserings vroeër huis toe is maar as toeskouers genooi is om die eindstryd in Japan by te woon, dieselfde bedrag sal ontvang.

Bogenoemde bedrag is slegs die spelers se verdienste in wedstrydgeld en wenbonusse uit deelname aan die kwarteindstryd, halfeindstryd en -eindstryd.

Elkeen van die 31 Bokke het byvoorbeeld R238 203 gekry omdat Suid-Afrika in die eindstryd gespeel het. Die wenbonusse vir elkeen vir die eindstryd is R476 406.

Vir deelname aan die halfeindstryd het SA Rugby ’n bedrag van R166 742 in elkeen van die 31 spelers se bankrekeninge betaal. Dieselfde bedrag is as wenbonusse aan elkeen in die groep vir die halfeindstryd oorbetaal.

Jurie Roux, uitvoerende hoof van SA Rugby, sou waarskynlik nie omgee om die spelers groter bonusse vir hul heldedade in Japan te betaal nie.

Veral as hy die horlosie twee of drie jaar terugdraai toe hy weens die Bokke se sukkelspel nie eens ’n truiborg kon bekom nie.

Roux en sy president, Mark Alexander, was destyds so raadop en desperaat dat hulle op ’n geheime sending na Ierland is om Rassie Erasmus se arm te draai om na Suid-Afrika terug te keer as SA Rugby se direkteur van rugby – ’n waagstuk wat in hul gesigte kon ontplof as die Bokke nie vanjaar die Rugbykampioenskap en Wêreldbeker onder Erasmus gewen het nie.

Borge behoort nou tou te staan ná die wyse waarop Siya Kolisi-hulle onder meer in Saterdag se eindstryd teen Engeland oorheers het.

Een van Kolisi se medeleiers, Duane Vermeulen, is as die Speler van die Wedstryd aangewys in wat as sy beste vertoning van die toernooi beskryf kan word.

Vermeulen is ingenome dat sy span nie ’n drie afgestaan het nie, maar ook hoe akkuraat die Bokke se uitvoering en afronding was.

“Ons het altyd vir mekaar gesê jy moenie in jou boks gaan klim nie,” het Vermeulen gesê.

“Jy moet steeds jou sirkustoertjies, soos ons dit noem, of dan wat jou as ’n speler goed maak, wys.

“Moenie bang wees om foute te maak omdat dit die eindstryd is nie.

“Probeer iets eerder as om net veilig te speel. Die spelers het baie goeie vaardighede gewys.

“Dis wonderlik om te sien.”

Die eerste groep Bokke sal Dinsdag in Suid-Afrika aanland. Rassie Erasmus, Kolisi en Handré Pollard sal onder dié tel wat tussen 16:30 en 16:45 op die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg verwelkom sal word.

SA Rugby het in ’n nuusverklaring ook aangedui dat die Bokke op 7 November met die Wêreldbeker deur Pretoria, Johannesburg en Soweto sal toer.

Die Bokke sal ook op 8 November in Durban, 9 November in Oos-Londen, 10 November in Port Elizabeth en 11 November in die Kaap besoek aflê.

Hulle sal later meer besonderhede daaroor bekend maak.