“Go Bokke! Bring die beker huis toe!”

Dit is die algemene boodskap wat Suid-Afrikaners aan die Springbok-rugbyspan stuur voor Saterdag se groot kragmeting teen die Engelse Rose om die Wêreldbeker (WB) in Japan.

Die Springbokke speel Saterdag om 11:00 (SA tyd) in Jokohama in hul derde WB-eindstryd nadat hulle dit in 1995 en 2007 gewen het.

Netwerk24 het lesers, wat die Bokke voor Saterdag wil sterkte toewens, gevra om ’n boodskap in ’n video aan te stuur.

Andries Huisamen sê: “Ons gaan die politoer koop. Ons gaan die beker mooi blink maak. Hy gaan bly staan hier by ons. Hy moet nou bly staan by ons.”

“Pollard, jy is my allergunsteling. Ons staan bankvas agter julle. Bring daardie beker huis toe,” sê Yolandé Pretorius.

“Bring die beker huis toe. Dit maak nie saak of dit ’n mooi of lelike wen is nie. ’n Wen bly ’n wen. Ek kan nie wag om die naweek ’n dop op julle te drink nie. Sterkte ouens,” sê Marziant Bester.

Emily, Ian en Eva Zaayman sê: “AL die beste vir Saterdag. Ons is so trots op julle vir wat julle tot dusver bereik het. Hou net aan om te doen wat julle doen. Speel weer met dieselfde hart en passie.”

“Ons kan nie verloor nie. Ons het die Engelse. Hulle sal ons nie wen nie,” laat Clive Solomon hoor.

Hansie Genis glo pres. Cyril Ramaphosa moet Siya Kolisi, die Springbokkaptein, se nr. 6-trui aantrek wanneer hy hulle groet.

“Dit sal net so baie beteken soos toe Madiba dit gedoen het.”

Annaré Spies en Max
Andries Huisamen
Yolandé Pretorius
Die Hoërskool Bellville
Emily, Ian en Eva Zaayman
Clive Solomon
Hansie Genis