“Ons voel die druk en is senuagtig omdat ons probeer om nommer een te word. Terselfdertyd is ons vrek opgewonde.”

So het Rassie Erasmus, afrigter, die gevoel in die Springbok-kamp voor Sondag se Wêreldbeker-halfeindstryd teen Wallis in Jokohama opgesom.

Ná ’n aantal maer jare vir Suid-Afrikaanse rugby sedert die 2015 Wêreldbeker-toernooi, sê Erasmus hulle durf weer oor die eerste plek op die wêreldranglys droom.

Dit nadat dit met tye in 2016 so beroerd met die Bokke gegaan het dat daar gevrees is dat Suid-Afrika sy aura kwyt is.

Rassie Erasmus, afrigter van die Bokke. Foto: Gallo Images

In 2017 het dit veel beter met Allister Coetzee se span gegaan, maar groot nederlae van 57-0 teen die All Blacks in Albany en een van 38-3 teen Ierland in Dublin het hom eindelik sy pos gekos.

Erasmus se span het in 2018 meer verloor as wat hy sou wou hê, maar 15 September 2018 se Rugbykampioenskap-sege van 36-34 oor die All Blacks in Wellington was een van die belangrikste keerpunte in die geskiedenis van Bok-rugby.

Wallis se span:
15 Leigh Halfpenny, 14 George North, 13 Jonathan Davies, 12 Hadleigh Parkes, 11 Josh Adams, 10 Dan Biggar, 9 Gareth Davies, 8 Ross Moriarty, 7 Justin Tipuric, 6 Aaron Wainwright, 5 Alun Wyn Jones (k), 4 Jake Ball, 3 Tomas Francis, 2 Ken Owens, 1 Wyn Jones. PLAASVERVANGERS: 16 Elliot Dee, 17 Rhys Carre, 18 Dillon Lewis, 19 Adam Beard, 20 Aaron Shingler, 21 Tomos Williams, 22 Rhys Patchell, 23 Owen Watkin.

Dít het ondersteuners en die spelers weer die nodige selfvertroue gegee dat hulle enige span ter wêreld kan klop. Sou die Bokke voortgaan om vanjaar die Wêreldbeker te wen, sal hulle na daardie geskiedkundige oorwinning as ’n belangrike keerpunt terugkyk.

Sover gaan dit vanjaar goed met die Bokke, wat die verowering van die Rugbykampioenskaptitel en ’n plek in Sondag se halfeindstryd insluit.

Erasmus se wenpersentasie as afrigter begin klim en is nou op 62% - 15 oorwinnings uit 24 toetse.

“Sommige mense het in sommige stadiums baie vertroue in ons verloor, so ons het in die geheel ’n heel ander uitdaging.

“Ons het net aan die begin probeer om ’n bietjie respek te kry, sodat mense as ’n span in ons kon glo.

“Nou is ons in daardie stadium waar ons weer nommer een in die wêreld wil word.

“Daar is nou interne druk, druk van verwagtinge en dis ’n ander soort druk.”

Dis vir ’n slag weer positiewe druk nadat die Bokke nog verlede week negatiewe druk in hul kwarteindstryd teen Japan ervaar het.

’n Gevoel het voor die Japanse toets in die Bok-kamp bestaan dat die res van die wêreld teen hulle was omdat hulle gehoop het die gasheerland se sprokiesverhaal duur voort ná Japan se oorwinnings oor Skotland en Ierland in die groepfase van die toernooi.

Wat tot die negatiewe druk bygedra het, is dat die Bok-span nie ná die skandes in Brighton weer in vanjaar se toernooi teen Japan wou verloor en ná hul kwarteindstryd huis toe wou vlieg nie.

Die Bokke se lyftaal is die week beter en hulle omhels die positiewe druk van ’n halfeindstryd.

Gepraat van die Japanse toets.

Erasmus is nie oortuig dat hul nederlaag van 23-13 teen die All Blacks in Jokohama heeltemal tot hul voordeel was wat hul pad na ’n moontlike eindstryd betref nie.

“Ons wou Nieu-Seeland graag klop, sou ons daarin slaag sou ons teen Ierland in die kwarteindstryd speel.

“Ek is nie honderd persent seker om Japan tuis te speel, nadat hulle Ierland en Skotland geklop het, watter kwarteindstryd die maklikste sou wees nie ...

“Japan was werklik taai - jy kon dit in die rustydtelling sien - ons kon eers in die laaste 15 minute onder hulle wegtrek.

“Maar ek skat van nou af vorentoe, as jy kyk na Engeland wat teen Nieu-Seeland speel, is dit beslis ’n bietjie moeiliker.”

Die Bokke het volgens Erasmus nie hulle benadering ná hul nederlaag teen die All Blacks in Jokohama verander nie.

Hulle is bewus dat hulle vir vier minute konsentrasie teen Nieu-Seeland verloor het en vier of vyf kanse nie teen die Kiwi’s benut het nie.

Suid-Afrika het die afgelope tyd hard aan hul afronding gewerk, iets wat bepalend in Sondag se halfeindstryd sal wees.

“Ons het egter nooit enige paniekknoppies ná die verloor teen die All Blacks gedruk nie.

“Ons het net aanhou werk en bevind ons nou in ’n posisie waar ons ’n sterk kans staan om tot die eindstryd deur te dring."