Die skeidsregter Jérôme Garcès kan nie die skuld kry vir die Springbokke se nederlaag van 23-13 teen die All Blacks in hul eerste Wêreldbeker (WB)- wedstryd nie, sê André Watson.

Watson, ’n voormalige Suid-Afrikaanse skeidsregterbaas, stem nie saam met kritiek wat Garcès van Suid-Afrikaanse ondersteuners gekry het vir sy vertoning in gister se wedstryd in Jokohama nie.

“Ek dink Garcès het ’n baie moeilike wedstryd baie goed hanteer,” sê Watson.

“Na my mening is hy een van die drie bestes ter wêreld. Hy, en sy base, sal baie tevrede voel met sy vertoning.”

Veral op sosiale media het Suid-Afrikaners hul ontevredenheid oor dié Franse blaser se vertoning uitgespreek.

Dit was veral sy besluit om, met die telling op 20-13 in Nieu-Seeland se guns en min speeltyd oor, nie ’n strafskop aan Suid-Afrika toe te ken nie nadat Duane Vermeulen sy hande, wettig, op die bal by ’n afbreekpunt gekry het.

Pleks van ’n strafskop aan hulle, het Garcès die Bokke vir onkantspel later in die beweging gestraf en Nieu-Seeland het die strafskop deur die pale gejaag om die uitslag bo alle twyfel te stel.

Watson gee wel toe Garcès was “toegeeflik op die grond”.

Ek dink Garcès het ’n baie moeilike wedstryd baie goed hanteer.
Andre Watson

“Daar was so hier en daar ’n fout, soos by ’n skrum wat hy eers ’n vryskop en toe ’n strafskop teen die Bokke toegeken het. Dit moes ’n strafskop vír die Bokke gewees het, want Nieu-Seeland het geval.

“Maar dit is ’n strafskop hierdie kant toe en ’n strafskop daardie kant toe. Die Bokke kan nie kla dat hy hulle die wedstryd gekos het nie.”

Die WB-toernooi is nog in sy babaskoene, maar die Bokke se wedstryd was nie die enigste waarin die skeidsregter ’n besprekingspunt was nie. Watson het egter nie Saterdag se ander twee wedstryde – dié tussen Australië en Fidji en tussen Frankryk en Argentinië – gesien nie.

Mario Ledesma, Argentinië se breier, was woedend vir die Australiese blaser, Angus Gardner, se hantering van die Poemas se nederlaag gister teen Frankryk.

Die Franse het dié wedstryd in Tjofoe op dramatiese wyse met 23-21 gewen.

Ledesma was veral omgekrap omdat Gardner Frankryk se onkantspel in die doodsnikke van die wedstryd geïgnoreer het.

Die voormalige Argentynse haker het die voorbeeld genoem van die Franse plaasvervanger-losvoorspeler, Louis Picamoles, wat ’n bal onderskep het met Argentinië op die aanval.

“Ek dink almal het dit gesien . . . Picamoles was minstens twee of drie meter onkant toe hy die bal onderskep het,” het Ledesma volgens Reuters gesê.

“En ek dink die assistent-skeidsregters neem ’n besluit en dan besluit die skeidsregter om dit nie vir ons te gee nie. Ons het op die voorvoet gespeel, so dan moet ons die strafskop kry.

“Ek het nie die strafskoptelling nie, maar die skeidsregter het verskeie kere vir hulle (Frankryk) gesê die volgende een gaan ’n geelkaart wees. Hulle het nie ’n geelkaart gekry nie.

“Die duidelikste een was in die doodsnikke, die laaste een. Die Fransman wat die duikslag uitgevoer het, rol nie weg nie en ons skrumskakel kan nie die bal kry nie. Dan steel hulle die bal.

“Dit was nog ’n strafskop onder die pale, 30 meter weg. So dit alleen kon die wedstryd geswaai het,” het Ledesma gekla.